Gedagte vir die dag: Hy is die Lewe

Reenboog_natuur_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ’n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. (Johannes 1:3)

“Life is difficult.”

Só begin M Scott Peck se befaamde The road less travelled wat hierdie Amerikaanse psigiater wêreldbekendheid besorg het.

Daardie eerste woorde is nie, beroemd soos hulle is, regtig aardskuddend nie. Ons almal beleef tog op die een of ander stadium dat dit inderdaad só is: Hierdie lewe ís nie maklik nie.

Charlie Chaplin het wel gereken die lewe is nie nét moeilik nie. “Life is a tragedy when seen in close-up, but a comedy in the long shot,” het hy gesê.

Volgens die wyse Forrest Gump is die lewe soos ’n boks sjokolade, vol verskeidenheid en met lekker verrassings. Daar is ook diegene wat reken dat hierdie lewe bloot ’n reeks biologiese funksies is wat deur die liggaam se organe onder leiding van die brein voltrek word.

Daar is ook dié wat kla dat die lewe verby ons flits. Hulle sê die lewe is kortstondig.

Die lewe is kosbaar, sê ander. Die lewe is broos, kla die res. Sommige mense gaan so ver om te jubel YOLO! (“you only live once”) en gebruik dit dan as ’n verskoning om die allervreeslikste dinge aan te vang …

Ja-nee, ons kan ure lank filosofeer oor hoe die lewe nou eintlik is. En as jy eers begin dink aan jou eie lewe en wat die sin daarvan is, kan dit jou, wel, ’n leeftyd lank besig hou. Johannes die Evangelieskrywer het ook oor die lewe gedink. Hy sê oor Jesus: “Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ’n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie” (Joh 1:3).

En Paulus verklaar in 1 Korintiërs 8:6 dat dit Jesus Christus is deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe. Dis Jesus wat die hoopvolle flikkering bring wanneer alles in jou dood voel. Hy is die Een wat ’n kil, troostelose verhouding in ’n deernisvolle, diep verbintenis omvorm. Hy kan ’n klip-hart omskep in een waarin daar liefde en lewe bruis. Hy is die Een wat vergewe en ’n mens se hele lewe in ’n ander koers stuur.

Jesus is die Een wat lewe gee. Núwe lewe. Wat oorbegin moontlik maak. Hy is die enigste Een wat al ons dankbetuigings werd is en wat onophoudelike dankbaarheid verdien. Wanneer Jesus oor die lewe praat, sê Hy: “Ek is die Lewe” (Joh 14:6, my beklemtoning). Ja, die lewe is baie dinge vir baie mense. Maar die lewe, die regte Lewe, is ’n Persoon.

Here, dankie dat U die lewe aan my geskenk het en dat ek dit saam met U kan leef. U is voorwaar my lewe!

Bron: 100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johan ·

Dankie Here dat U in ons lewens is. Dankie vir al U genade en seëninge. Amen!

Darryl ·

Amen ..Hy is die weg en die waarheid..Prys Sy Heilige Naam.

Saintjordaan ·

Hierdie wiskunde klop nie…
Mat 1: 1 lees Jesus Christus is die seun van Abraham en die seun van Dawid…
Verder dui die geslagsregister aan dat Jesus die 41ste geslag vanaf Abraham is en die 42 ste geslag is Christus,, na die doopbad van Johannes Hand 10:34-38 en in evangelies. Jesus was wel die eerste Christus Hand 2:36 en Rom 8:29 en Heb 2:10,11 leer Jesus Christus nie Jesus het baie broers – die saad (nie Adam saad nie maar ‘n Gees saad Christus) van Abraham.. (waarvoor die skepping wag Rom 8:19…Jesus Christus is die morester en die nageslag van David Open 22:16
Die Bybel lees Jesus het ‘n God en ‘n Vader gehad bv Ef 1:3; 17; 1 Tim 2:5; Joh 20:17, selfs Open 3:12, en die Bybel leer baie duidelik in Hand 10:38 dat God Jesus gesalf het met die Heilige Gees en met krag, en Hand 2:22-24 leer dat God het Jesus Christus uit die dood opgewek het dat hy ‘n man was soos 1 Tim 2:5 leer.
Aikona, hierdie is nie waar van die ou Skepping nie, maar van die nuwe skepping, waarvoor betaal is aan die kruisoffer..
Jou wiskunde klop nie dame…

OWO ·

Ek sien nie dat Jesus ‘n man was volgens 1 Tim 2:5 nie.Dit wat God God maak soos liefde,genade,geregtigheid,heiligheid,oor-deel,kan netsowel deur ‘n vrou openbaar word.En wat Jesus ons Verlosser betref,daar is nooit enige verband in die Bybel tussen sy manlikheid en sy verlossingswerk nie.Waar was Jesus met die skepping?Daar sou nie ‘n skepping gewees het as Jesus nie daar was nie.Die Vader het alles wat Hy gedoen het,deur Jesus gedoen.Jesus Christus is nie ‘n onderwerp van Christenskap nie-Hy is die onderwerp.Het jy dalk meer kennis van gebed,vas,gawes en bonatuurlike manifestasies as van Jesus?Weet jy meer van kerk dinge as wat jy van Jesus weet?Is jy meer ingelig oor die onregte teen jou as oor die persoon en karakter van Jesus Christus?Indien wel,het jy die heel belangrikste ding misgeloop.My gebed is dat jy Jesus ken wat van die begin af daar was.1 Joh 2:13.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.