Gedagte vir die dag:  Hy is hier

Namakwa_kokerboomwoud-Copy.jp

Die kokerboomwoud (foto: Namakwa Toere)

Lees Genesis 28:10-22

“Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie”. (Genesis 28:16)

Jakob vlug in aller yl voor sy broer Esau se wraak. Hy slaap sommer in die oop veld, met ’n klip as kopkussing. En hy droom van ’n leer wat hemel en aarde met mekaar verbind.

Die Here self verskyn aan die dromer en herhaal die beloftes wat Hy destyds aan sy oupa gemaak het: “Ek sal … Ek sal … Ek sal …”

En, as finale bevestiging: “Ek sal doen wat Ek jou beloof het.” Dit is alles bitter vreemd: daardie Stem, daardie woorde. Daardie herhalende, soos vir Abram, “Ek sal …”

Jakob is onthuts: Die Here is hiér, hier waar hy vir sy broer se wraak wegkruip. In hierdie nag, in hierdie stukkie veld. Dit maak hom bang; hy kan nie vir Hóm vlug nie. Soos die latere Psalm 139-digter vind Jakob uit dat die Here dwarsdeur hom sien. Hy weet alles …

Dalk is dit vrees wat Jakob noop om sy klipkussing aan die Here toe te wy. Dalk doodgewone ontsag. Ag, en straks ook maar ’n goeie skeut opportunisme: “As U, o God, by my is en my beskerm … en vir my kos en klere gee … sal U, Here, my God wees.”

Hoe ook al: Die waarheid is dat die Here wat dwarsdeur sy bang kinders sien en hul kansvattery ken, by hulle is en by hulle bly. Dat Hy hulle nie onder sy oë laat uitgaan nie, omdat Hy weet tot watter vernietigende én selfvernietigende gedrag hulle in staat is.

Hy vergesel hulle as hulle vlug en waak as hulle slaap. Hy is onafgebroke by dié wat leef van sy “Ek sal”-belofte.

Ook nou, Here, aan die begin van dié onbekende jaar, is U hier. Hier by my.

Bron:  Uit die Beek 2020 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Yvonne ·

Amen…dankie Here dat U wat my ten diepste ken my onvoorwaardelik liefhet net soos ek is

Maria M S ·

Baie dankie liewe JESUS vir U GENADE onbeskryflik groot. AMEN

Agter die skerms..... ·

Amen ons God. Ons almal moet dankie se dat U hier is – U is hier oor ons met die Covid virus ook. Almal moet net glo – almal is nou verskrik net om te hoor van Covid. In ons werksplek werk ons my God maar elke oggend as ek werk toe gaan beklee ek my met U uitrusting. In U naam hou U beskerming oor almal my God. Amen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.