Gedagte vir die dag:  Hy is wat Hy is

vyeboom

Foto: Reint Dykema

Lees Jona 4

“Ag, Here, ek het dit geweet … U sien maklik af van die straf wat U aangekondig het” (Jona 4:2)

Dinge werk nie altyd uit soos geroepenes dit wil hê nie. Wanneer daar dus sukses kom, is die vreugde en dankbaarheid groot. Hulle het my gehóór! word daar dalk gesê. Hulle het regtig gemaak soos die Here wou hê – prys sy Naam!

Stel jou dus Jona se oorstelptheid voor toe die onwaarskynlike gebeur en die groot stad Nineve, koning en al, tot inkeer kom. Maar sien dan dat jy heeltemal verkeerd is: Jona is nie bly nie, nie eens naastenby nie. Inteendeel.

’n Mens kan net jou kop skud. Sy harde werk word beloon – en hy wil dit nie hê nie. Sy prediking dra ryke vrug – en hy keer sy rug daarop. Wat wil jy dan hê, Jona?

’n Kwaai God. Vuurspuwend. Onbuigsaam. Haatdraend. Dit is waarop Jona gehoop het. Maar toe leer ken hy ook in Nineve die Een wat hy reeds in sy eie land geken het: die “genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde”. Jona hou nie van Hom nie. Hy vat die pad, hoogs ontevrede, en gaan sit dikmond buite die stad en wag. Miskien is God tóg soos hy wil hê Hy moet wees …

Hy is toe nié. Hy is dit nooit nie. Hy sal dit ook nie word nie. Hy is wat Hy is.

Maar hoe is Jona dan? Het hy nie iets uit sy aanvanklike drostery geleer nie? Die storm, die vis-episode? Die tweede kans? Jona sê hy ken hierdie God. Maar glo hy ooit wat hy met soveel drif verkondig? Gló hy in hierdie God wat hy ken?

Herinner my gereeld aan hoe U is, Here. Barmhartige, omarm my. Want U weet hoe ek is.

Bron:  Uit die Beek 2020 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Yvonne ·

Here Jesus U het die pad van ondankbare liefde vir ons geloop…U Genade vir n mens is wonderbaarlik groot

Africangrey ·

Dit is presies soos ons mense mos is, ons sè dankie Liewe Heere vir U genade, dat U nog iets met mense te doen wil hè, ons wat vrot is van sondes, en U maar net wil ken in tye van teëspoed, en te sleg is om U te dank en loof in voorspoed, Ons dank U Heere vir ALLES wat U vir ons skenk, en ons vra liefde in ons harte na U toe, want ons het dit nie, en liefde vir mekaar, want ons het dit nie, Eers dan sal die wèreld leefbaar word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.