Gedagte vir die dag: Hy jubel en juig

arms_uitgestrek_berg_natuur_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou. (Sefanja 3:17)

Tussen ’n klomp werkdinge deur tref die e-pos my soos ’n helder reënboog op ’n grou, gedempte dag: Hoe min dink ons dat opgewektheid beslis in die tekstuur van ons aardse lewe as kinders van die Here hoort. Ditto vir jou, daar op kantoor en elders. Groete, Maretha.

Opgewektheid, dink ek. Vrolik, blymoedig, lewenslustig. Ek dink oor die woord, laat dit oor my lippe rol. Opgewek. Toe antwoord ek: Weet jy hoe het hierdie woordjie in my kop bly maal die afgelope uur? Ek besef net weer dat daar iets opgeweks is aan God wat ons dikwels tussen ons erns met die lewe en ons o so groot verantwoordelikheidsin miskyk.

Later gaan soek ek die bekende vers in my Bybel op, daardie een wat my geykte denke oor God oopbreek en vars maak: “Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou” (Sef 3:17).

Iemand wat juig, is nie stil en statig nie, en ook nie formeel of ernstig of emosieloos nie. Om te juig, vra passie. Om te jubel, vereis lawaai. Dis ’n harde geroep en ’n sprongetjie in die lug, ’n agteropskop en ’n joegaai!

’n Lyf wat ruk en ’n stem wat weergalm. Dalk nog ’n gebalde vuis in die lug. Hoe vreemd voel dit om God met sulke eienskappe te beskryf! God wat vol blydskap in die lug spring? God met ’n plesierige kreet omdat Hy so baie van jou hou? Verbeel jou: ’n God wat opgewek deelneem aan hierdie verhouding tussen Hom en sy kinders!

Tog is dit waar: Hy ís vol vreugde oor jou, sê Sefanja. Hy jubel en juig oor jou. ’n God wat jubel, ’n Verlosser wat juig, vra die een of ander soort reaksie van ons. ’n Dankbare respons omdat ons verwonderd staan voor nóg ’n openbaring van wie Hy vir ons is. Inderdaad: In ons voortgaande ontdekking van wie God is, vind ons ook sy opgewektheid.

Hy is nie net formeel en ernstig nie en beslis nie ’n emosielose, véraf God nie. Hy sing vrolik en klap opgewek sy hande oor die kinders wat so na aan sy hart leef.

Here, dankie vir u vreugde oor my. Dankie dat U werklik oor mý jubel en juig.

Bron: 100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johan ·

Dankie Here dat U in ons lewens is. Dankie vir al U genade en seëninge Here. Amen!

GL ·

Vader dankie vir al die liefde en vrede wat U vir ons gee. Dankie dat U altyd daar is vir ons. Sonder u is ons werklik verlore. Amen.

Maria ·

Sjoe dit nou….n moooi….woorde van more. Al voel minderwaardig en swak dankie Here dit raak aan my hart.

Bridget ·

Amen dit is regtig baie mooi en laat mens weer besef hoe Groot is Onse Vader

Spook ·

Jubel en juig word nogals mooi beskryf- nou hoekom sien en hoor ons dit dan nie?Die verbeelding darem!

Rita Labuschagne ·

My Here, mag ek nooit U vreugde oor my demp nie! Amen!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.