Gedagte vir die dag: Hy ken jou naam

Vrou_koffie_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

“Ek ken jou op jou naam; Ek is jou goedgesind.” (Eksodus 33:12b – AFR83)

Is dit nie ongelooflik om te weet dat God, die Skepper van die heelal, die Almagtige, Alomteenwoordige, Alwetende Here, in sy grootheid in jou belangstel nie. Meer nog, Hy ken jou naam en wil goedgesind wees teenoor jou.

Die gdagte is bykans te groot vir ons as mens om ten volle te begryp. Daarom behoort ons uit liefde en ontsag vir Hom daarna te streef om tyd met Hom deur te bring en sy hart te leer ken. Ons moet dag en nag uit sy Woord mediteer en leef om ’n meer intieme en persoonlike verhouding met Hom te hê. In alles wat ons beplan en aanpak, moet ons bo enigiets anders sy wil soek sodat Hy Homself aan ons kan bekend maak en ons kan weet wat Hy wil hê ons moet doen.

Die Here is ’n jaloerse God en daarom wil Hy deel wees van elke faset van jou lewe. Hy is nie daar ver iewers en te besig dat Hy Homself met jou doen en late hier op aarde wil bemoei nie. Nee, Hy is reg hier by jou en dit is die hart van die Vader om aktief betrokke te wees in jou elke Godgegewe droom en die uitvoering daarvan! In sy groot genade is Hy by jou, vir daardie tye wat jy na Hom wil uitroep. Hy wil aan jou sy vrede gee dat jy met vrymoedigheid jou drome kan najaag, met die blye wete dat sy voortreflikheid voor jou uitgaan en sy goedheid en guns jou agterhoede dek.

Die Here soek nie net ’n gedeelte van jou hart nie, Hy soek jou hele hart! Hy het jou op jou naam geroep en Hy wil jou seën, jou beskerm en Homself oor jou ontferm in daardie harde tye wat vir jou voorlê in jou reistog na jou eindbestemming. “Welgeluksalig” is vir my so ’n pragtige beskrywing van die wil van die Vader vir elkeen van sy kinders. Sy begeerte vir jou is dat jy die hoogste mate van geluk en volronde seën elke dag sal ervaar!

Geskryf deur Alta Strauss
Facebook | Instagram | [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Yvonne

Amen…dankie Here….U wat my naam ken, U weet alles en is lief vir my..Amen