Gedagte vir die dag: Hy leef!

 Hemelvaart_Opstanding_Stiltetyd.jpg

Foto: christianheadlines.com

‘Waarom soek julle die Lewende by dooies? Hy is nie hier nie. Hy is uit die dood opgewek.’ (Lukas 24:5–6)

Dis die klimaks van die Evangelie – Jesus leef. Hy het ná sy dood aan die vroue, Maria en Maria Magdalena (lees Matteus 28), verskeie kere aan sy dissipels en nog 500 ander in en om Jerusalem verskyn, ook aan Saulus op die Damaskuspad (lees 1 Korintiërs 15:3–9).

As Jesus nie uit die dood opgewek is nie, het die Evangelie op ’n somber noot geëindig en was daar vir ons min om na uit te sien. Maar Hy belowe ook vir ons wat in Hom sterf, dieselfde opstanding uit die dood: ‘In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is’ (Johannes 14:2–3).

Petrus spreek die skare toe op Pinksterdag en getuig by herhaling van Jesus se opstanding uit die dood: ‘Daarom is my hart bly,’ sê hy, ‘en my tong jubel, ja meer, ek het die verwagting dat my liggaam sal lewe, want U sal my nie aan die doderyk oorlaat nie’ (Hand 2:26–27).

Die God van liefde sien daarna uit om ons almal om sy feestafel te verwelkom. Leef vandag met hierdie hoop. Al is jy siek of oud, jou liggaam sal vernuwe en verander word om soos Jesus te wees. Verwag die ewigheid saam met Hom.

Here, u beloftes staan vas en vul ons elke dag met nuwe hoop. U roep ons uit die donker na die lig, van pyn en smart na nuwe krag en ongekende vreugde, uit ouderdom na ewige jeug, uit onkunde na kennis, van die dood na die lewe soos U dit van die begin van die skepping af bedoel het.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke  
Vir meer geestelike artikels besoek  http://www.joydigitalmag.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

neelsie ·

Hemelvaart se boodskap…’gaan vertel….wees gehoorsaam….’ met n belofte ‘Ek is altyd by julle’
Geseende dag,geniet dit …deur God se genade.

SNEL ·

Die gedeelte baie geniet,vul mens met nuwe krag en opgewondenheid.
Met daai laaste gedeelte…al is jy siek of oud…, hoeveel keer raak ons nie moedeloos as iets ons tref nie, maar in vanoggend lees ek The tragedy is that most Christians are willing to serve Jesus only as it benefits them. They are completely unwilling to suffer in any way, especially not physically or financially. So laat ons vasstaan in geloof, al lyk ons omstandighede ook hoe sleg. Ons moet dankbaar wees IN alle omstandighede….dit sê nie vir alle omstandighede nie, maar in ons huidige situasie. Laat ons nie deur die storms om ons fokus verloor nie….oë op Jesus, vasstaan in geloof, hardloop die wedstryd met volharding en behou wat jy het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.