Gedagte vir die dag: Hy sal die getroues beskerm

murasie_karoo_pixabay_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Hy verhef die minderwaardige uit die stof, die behoeftige uit die ashoop! Hy behandel hulle soos prinse en laat hulle op ereplekke sit. Die onwankelbaarheid van die aarde kom van die Here. Daarop het Hy die wêreld gebou. (1 Samuel 2:8)

Die Here laat doodgaan en laat lewe. Die Here maak een arm en die ander ryk. Hy verhef die minderwaardige uit die stof, die behoeftige uit die ashoop! Hy behandel hulle soos prinse en laat hulle op ereplekke sit. Die onwankelbaarheid van die aarde kom van die Here. Daarop het Hy die wêreld gebou. Hy beskerm die getroues op hulle lewenspad, maar die goddeloses word in die graf stilgemaak. Dis nie deur eie krag dat ’n mens oorwin nie. (1 Samuel 2:6-9). Hierdie verse vorm deel van Hanna se loflied, die lied van ’n vrou wat kinderloos was, maar wat uiteindelik die kind ontvang het wat God aan haar belowe het. Wanneer sy haar geliefde seun aan die Here se diens toewy, vloei die lofprysing vir God se oppermagtige goedheid uit haar mond.

Hierdie verse gebruik ’n tegniek van die digkuns wat merisme genoem word. Dit is wanneer twee teenoorgesteldes gebruik word om die totaliteit van alles tussen hulle te omvat. God beheer dood en lewe – en daarom ook elke dag tussen lewe en dood. Hy maak mense ryk of arm – en alles tussenin. Vers 8 vat alles saam: Die hele aarde behoort aan die Here en Hy laat dit onwankelbaar staan. Alles gebeur volgens sy soewereine wil.

Hierdie konteks is belangrik vir die belofte wat ons in vers 9 ontvang. God, die Een wat alles beheer, beskerm sy getroues en oordeel oor die goddeloses. Hy laat alles volgens sy volmaakte wil uitwerk. Ons kan sy planne nie stuit of teenstaan nie; ook nie ons vyande kan dit doen nie. Alles wat met ons in hierdie lewe gebeur, word gedra deur die waarheid dat reg en geregtigheid sal geskied en God verheerlik sal word. Laat hierdie belofte jou vandag vertroos wanneer jy bang voel of wanneer onreg jou ontstel. God gee dood en lewe, armoede en rykdom, en op die ou end sal elke deel van sy soewereine wil saamwerk om sy getroues te beskerm en boosheid finaal te verslaan.

Sy oë is altyd op die onskuldige, Hy vestig en verhef hulle vir altyd saam met konings. – Job 36:7

Bron: In die skadu van die Allerhoogste deur Nancy Taylor & Chris Johnsen
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Reynier Frederik ·

Absoluut. Ek glo onwrikbaar in die Almagtige God en Sy Woord. Hoevele beloftes het Hy al nagekom. Hoekom sal Hy nie die laaste paar wat oorbly ook nakom nie. Hy is getrou en regverdig. Kom ons hou aan Jesus en Sy beloftes vas. Hy kom een van die dae Sy bruid(die ware wedergeborenes gewas in Sy bloed) haal sodat ons vir altyd by Hom kan wees. Ek wil julle bemoedig. Moenie vrees nie. Jesus is in beheer.

Elsabe ·

Ek kan nie my dag deurgaan sonder om hierdie boodskappe te lees nie. Baie dankie MM dat julle vir ons Die Boodskap bring hier op ons skerm.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.