Gedagte vir die dag: Hy sal dinge láát gebeur

Pottebakker_klei_hande.jpg

Foto: gerhardy.id.au

Ek werk, en wie kan dit keer? (Jesaja 43:13 – Bybel in Afrikaans 1933/1953)

God sê die ballingskap is verby en die Jode kan terugkeer. Baie dinge gebeur toe: Kores en die Persiese konings ná hom het wette uitgevaardig wat al die vreemde volke in Babilonië vrystel. Tientalle families het al hulle besittings verkoop of terugvervoer deur verskeie lande – ’n geweldige trek. ’n Groot deel van die volk het doodgewoon agtergebly en Babilon het vir nog duisend jaar ’n belangrike Joodse sentrum gebly. Wonders het gebeur soos dat Nehemia volle staatsondersteuning kon bekom vir die herstel van die tempel en Jerusalem. Oor jare heen en in verskeie trekgroepe kom die Jode terug in hulle land.

Wat leer ons hieruit? As God iets besluit, sal niks Hom keer nie. Hy láát dinge gebeur. Jy (en ek) moet ook maar ontspan in God se hand. Wat ook al gebeur, die Almagtige is reg langs jou. Niks kan gebeur as Hy nie gesê het dis reg so nie. Alles wat gebeur, werk ten goede mee en bring ons nader aan die doel. Ons verstaan dit nie heeltemal nie, maar dit is wat die Bybel sê. Dit is ’n groot troos.

Here, dankie vir u almag en vir u liefde. Amen.

Bron:
In die lig van sy genade deur Jimi le Roux
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Phillip Horn ·

Wat `n wonderlike gedagte om hierdie nuwe dag mee te begin en voltooi in Gods Naam. Op hierdie Skrifwaarheid antwoord ek met duisende AMENS en `n hart vol vreugde en blydskap. Hartlike dank en seënwense.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.