Gedagte vir die dag: Hy sal jou nie afbreek nie

 

 riet_veld_gras_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

’n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie, ’n lamppit wat dof brand, sal hy nie uitdoof nie. (Jesaja 42:3)

Die “Dienaar van God” word in die Nuwe Testament aangewys as Jesus Christus.  Hierdie beskrywing van Hom in Jesaja pas Hom soos ’n handskoen.  Sy taak is om reg te maak, nie af te breek nie.  Afgedwaaldes word gaan haal en teruggebring na die trop toe, sê Hy; ongehoorsame wegloopkinders word terugverwelkom in die Vader se huis.  Hoe anders as ons, wat kwaad reageer as mense die goeie pad verlaat!  Tollenaars word bevriend en dan bekeer.  Selfs owerspeliges word nie veroordeel nie, maar gered van die straf van die wet.  “Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie,” sê Jesus bloot vir haar (Joh 8:11).

As Hy die geknakte riet sien, breek Hy dit nie ergerlik af nie, maar maak dit weer regop.  ’n Dowwe lamppit word nie uitgedoof nie, maar geduldig reggemaak, geknip dat dit weer helder kan brand.  Die ou Bybelse woord “Heiland” (vandag vertaal as “Verlosser”) beteken “Heelmaker” – een wat die heil of die heelheid bring.  Dis Jesus se hart!  Is jy stukkend?  Verdwaal?  Brand jou liggie flou?  Is jy so moedeloos dat die trane vlak lê?  Jesus gaan jou nie verder afbreek nie.  Nee, Hy gaan jou weer regmaak.

Doen dit nou, Here, maak my heel!  Amen.

Bron:
In die lig van sy genade deur Jimi le Roux
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ansa ·

Baie dankie vir die insigewende boodskap.Ja ons kan op God vertrou Hy is ons heelmaker want Hy kan sien waardeer ons gaan.Vertrou net op Hom Hy SAL jou weer optel Geseende dag vir almal

wynand ·

Baie dankie vir die ware boodskap, ek sukkel soms om my probleme te oorhandig vir God en dis hoekom ek voel ons in so n gat kan beland. ons moet net onthou dat ons moet alles aan ons Hemelse Vader oorhandig dan sal Hy ons weer heel maak

Maryn van Wyk ·

Ek het ook gesukkel om God ten volle te vertrou, toe ek nie meer kon en besef ek het nou net vir God, toe kon Hy my help.
Sy krag word volbring in ons swakheid! Maw ek het oorgegee…my wil tel toe nie meer. Dankie Vader.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.