Gedagte vir die dag:  Hy weet

baba_hand_pappa_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Jeremia 1:4-10

Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken … (Jeremia 1:5)

Ek is te jonk, Here, het Jeremia gekeer. En: “Ek kan nie goed praat nie” (v. 6).

Maar Hy het dit geweet, hierdie God wat hom geroep het. Hy het dit alles geweet. Hy ken hom dan van voor sy geboorte af. Niks wat Jeremia vir Hom sê, sal Hom verras nie. Of onkant betrap nie. Of Hom noop om sy oorspronklike planne te wysig nie.

Hy stel wel vir Jeremia gerus. Hy steek sy hand uit en raak aan die onwillige outjie se mond. Siedaar, sê Hy, “Ek het nou my woorde in jou mond gelê” (v. 9).

God is geen laatkommer in ons lewe nie. Ons hoef Hom dus nie in te lig of van enigiets in kennis te stel nie – Hy weet. Hy weet alles, van die begin af. Hy ken die hele storie, Hy weet wat die volle waarheid is. Hy ken dus ons verskoninkies. En Hy weet nie net alles van gister en van nou nie, Hy weet ook alles van môre.

Daarom moet ons maar versigtig wees om Hom teë te  gaan, al lyk sy planne vir ons nie soos ons daarvan hou nie. En al is sy tydsberekening daarvoor nie noodwendig vir wanneer ons gereed voel nie.

Maar moenie bang wees nie: As dit vir jou lyk Hy gaan jou by die diep kant ingooi, haal diep asem … en voel dan sy uitgesteekte hande. Dit sal altyd daar wees, hierdie sterk, sagte hande.

Hy sal jou nooit vir die wolwe gooi nie. Nee, nee. Jy is Syne. Van die begin af. Hy weet wat jy kán, en wanneer.

Ek is tot alles in staat deur U wat my krag gee. U krag kom dan juis in my swakheid tot volle werking.

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JV ·

Dankie Here dat U in ons lewens is. Dankie Here vir al U genade en seëninge. Amen!

Danie Malan ·

Baie dankie, Here, dat U alles van elke kind van U af weet, maar dat U – baie meer nog as ‘n goeie aardse vader – ook behae daarin het dat ons vir U sal vertel wat ons behoeftes is en wat ons nodig het om te kan lewe soos wat U van ons verwag! Hoor en verhoor daarom in U groot genade al die versugtinge wat in ooreenstemming met U wil vir ons lewens is. In Jesus Naam. Amen

leser ·

@carien, registreer by “you version” alles word verduidelik

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.