Lees Psalm 18:1 – 17
Van bo af het Hy sy hand uitgestrek en my gegryp, my uit geweldige waters uitgelig. (Psalm 18:17)
Wat in rykdom bied hierdie psalm se eerste klompie verse nie ’n Besonder beeldryke beskrywing van die Here se teenwoordigheid, sy sorg en sy ingryping in ‘n gekwelde mens se lewe.
Ons kan, selfs millennia later, ons volledig hiermee vereenselwig. Ons ken ook knellende, versmorende vrees soos dit hier geskets word. En wie kon deur die eeue anders oor die Here praat as in die oortreffende trap?
Hier geskied dit aan die hand van natuurbeskrywings wat die asem wegslaan. Dit laat dink ons op ‘n manier ook aan Moses en die wolk wat hy en sy mense tydens die woestyntrek gevolg het.
Die psalm bied egter veel meer as bloot beeldspraak. Daar is veral ook die bevrydende wete dat die hemelse Here sy verhewenheid opgeskort het, dat Hy laag gebuk en Hom na die aarde gewend het, na sy doodsbenoude kind, en dié uit sy ellende gered het.
Só verklank hierdie psalm ‘n helder God-en-mens-beskouing: Dáár is die Here; hiér is ons.
Maar nooit verloor Hy sy kinders uit die oog nie. Hy hou hulle binne vatafstand van Hom. Hy weet hulle sal die afstand tussen Hom en hulle nooit oorleef nie.
Here, dit is my enigste troos: Ek behoort aan U. En ek weet uit ondervinding dat U nooit u eiendom aan wind en weer oorlaat nie, en dat mot en roes geen vatplek aan my sal kry nie. Ek leef en beweeg in die holte van u hand, en niks en niemand sal my hiervan beroof nie. Hoe groot is U!
Dankie Here