Gedagte vir die dag: In die sloot

sloot-stappad-stiltetyd-pixabay.jpg

Foto: nico1979/pixabay.com

Hoe kan ’n blinde persoon ’n ander blinde lei? Die eerste sal in ’n sloot val en die ander een saam aftrek. (Lukas 6:39)

Jesus se lering was ’n vars bries in Jerusalem, in die omliggende dorpe en oral in Galilea en Judea. Daarom het duisende mense agter Hom aan gegaan. Hoe anders moes dit nie gewees het as die prediking van die Fariseërs nie! Hulle bediening was leweloos, ’n siekerige, opgewarmde gebroedsel wat hulle luisteraars se geestelike maag omgekrap het.

Jesus kom met vars, nuwe insigte. Hy leer hulle dat die armes geseënd is, dat die rykes moet oppas, dat mense hulle vyande moet liefhê, dat hulle moet uitleen sonder om iets terug te verwag, en baie meer. Dit was vreemde begrippe wat die luisteraars uitgedaag en laat dink het. Dit was ware voedsel vir die siel. Matteus 7:29 sê dat Jesus se lering gesagvol was – “heeltemal anders as dié van hulle eie skrifkenners”.

Jesus gebruik die beeldspraak in Lukas 6:39 dalk om die kontras tussen Hom en die skrifkenners uit te wys. Die skrifkenners is soos blindes: Hulle kan nie die lig vir ander mense wys nie, want hulle ken en eer self nie die lig nie. Hulle is soos ’n blinde gids wat ’n ander blinde man op ’n pad probeer lei, met die gevolg dat al twee in ’n sloot val. ’n Blinde het iemand nodig wat goed kan sien. Geestelik blinde mense het ook gidse nodig wat hulle geestelik op die regte pad kan lei. Jesus is die perfekte gids.

As ek en jy smag na meer geestelike insig, moet ons seker maak dat die aardse gidse wat ons in die Naam van Jesus lei, die Lig in hulle hart het. Anders lei hulle ons oor die wal tot binne-in die sloot.

Bron: Jesus se woorde vir elke dag deur Jan de Wet
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.