Gedagte vir die dag:  In dieselfde bootjie

Storm_weer_see_rotse_stiltetyd_pixabay.jpg

Argieffoto: pixabay.com

Lees Lukas 8:22-25

Toe sê Jesus vir hulle: “Waar is julle geloof dan?” Maar hulle was verskrik en verbaas … (Lukas 8:25)

Miskien, sal sommige kerkmense dink, is die teenoorgestelde van geloof nie ongeloof nie, maar eerder iets soos “verskrik en verbaas”. Want is geloof dan nie by uitstek daardie omgewing waar kalmte en tevredenheid heers nie? Dan moes Jesus se dissipels kalm gebly het. Moes hulle geweet het Jesus is saam met hulle, en daarom hoef hulle nie bekommerd te wees nie. Kon hulle doodgewoon verder slaap.

Maar toe gaan maak hulle Hom mos wakker. Ontsteld, beangs: “Meneer, Meneer, ons vergaan!” (v. 24). En Jesus maak die storm stil. En vra waar hul geloof dan is.

Ons, die gelowiges uit ’n ander eeu, óns sou Hom kordaat kon antwoord en dalk sê: Ons is maar net mense, Here; vergewe ons kleingeloof, asseblief. Buitendien – en miskien sal ons dít nie vir Hom sê nie, maar net onder mekaar mompel – hierdie saam-met- Jesus-in-die-skuitjie-teologie is sommer soetsappige snert. ’n Mens moet darem ook realisties wees, en die Here moet dit tog verstaan: As die storms woedend om jou slaan, is jy bang. Punt.

Ek vermoed die Here weet dit. Ek dink Hy ken ál ons angs en vrees, juis omdat Hy naby ons is. En Hy maak steeds die storms stil wat ons so angstig maak, ten spyte van ons geloof of gebrek daaraan. Want het jy opgelet dat Hy op sy volgelinge se angstige uitroepe gereageer het deur die bron van hul vrees te verwyder, en dat Hy eers daarna gevra het na hul geloof?

Hoe noodlottig sou sake verloop het as Hy éérs geloof by hulle gesoek het en dán, in reaksie daarop, die storm stilgemaak het … Of nie.

Bly by my, Heer, terwyl die storms woed …

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.