Gedagte vir die dag: In groot afwagting

twee_persone_sit_duine_sonsopkoms_pixabay_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

En omdat Josef ’n afstammeling van koning Dawid was, moes hy vanaf die dorp Nasaret in Galilea na Judea gaan, na Bethlehem, Dawid se tuisdorp. (Lukas 2:4)

Ek is gaande oor Kersfees. Ek begin maande voor die tyd voorbereidings tref. Dis my gunsteling tyd van die jaar.

Josef en Maria moes ook voorbereidings getref het, maar om ‘n heel ander rede. Maria was swanger, eintlik op haar laaste. Keiser Augustus het ‘n bevel uitgevaardig dat die hele volk getel moes word. Josef was uit die geslag van Dawid en moes na Betlehem gaan. Hierdie lang rit moes Maria baie moeg gemaak het. Al was hulle nederige, arm mense sou sy definitief in haar tuisdorp voorbereidings getref het vir haar baba se koms. Hulle het egter geen keuse gehad as om die lang rit aan te pak om hulle name in die register van Betlehem te gaan skryf nie.

Ná die lang reis kom hulle in Betlehem aan, maar daar is geen herberg vir hulle slaapplek nie. Maria moes al baie moeg gewees het. Lyfseer en gedaan kry Josef vir hulle ‘n plekkie in ‘n stal tussen diere. Dit was nie steriel en ‘n veilige plek om geboorte aan ‘n baba te gee nie. Dit was ‘n vuil stal met dieremis en dalk strooi. Daar was niks romanties aan hierdie toneel soos sommige Kersfeeskaartjies uitbeeld nie. Dit was meer as ‘n nederige plek.

Op die dag is daar ook in die hemel voorbereidings getref. Die hemelse kore het hulle bladmusiek uitgehaal. God het in afwagting op sy troon gesit vir die grootste gebeurtenis in die geskiedenis van die heelal. Die wyse manne was ook op reis en het met opgewondenheid uitgesien na die Koning waarheen hulle op pad was.

Is jy opgewonde oor Jesus? Sien jy uit na sy koms? Sit jy vandag met afwagting in jou hart vir die Koning van die heelal om op te daag in jou lewe?

Here, ons sien uit na u koms. U, die Redder van die heelal, kom vul my lewe. Amen.

Bron:
Met ‘n lied in die hart deur Marietjie Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nicolas ·

Dis net jammer dat die ware christus nog nooit deel was van Kersfees. Sal ook nooit wees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.