In Hom is alles te vind

Skriflesing: “Maar Jesus sê vir hulle: ‘Hulle hoef nie weg te gaan nie …’” (Matt 14:16).

Die besorgde dissipels se voorstel dat Jesus die honger skare moet wegstuur, is nie vir die deernisvolle Jesus aanvaarbaar nie. “Hulle hoef nie weg te gaan nie …” Hy het hulle immers geleer om eers die koninkryk van God en sy geregtigheid te soek, en dat al die ander dinge dan vir hulle bygevoeg sal word. Hulle het alles agtergelaat en na hierdie verlate plek gekom om by Hom te wees, om sy woorde te hoor en sy aanraking te ervaar. Hulle het geen voorsorg getref vir die tydelike nie – sal Hy dan nie nou vir hulle ook al die ander dinge, die tydelike, die minder belangrike, gee nie?

​Jesus het hulle geleer om hulle nie te kwel oor die lewe, oor wat hulle sal aantrek en oor wat hulle sal eet nie. Hy het hulle geleer om te kyk na die voëls van die hemel, wat nie saai nie en nie maai nie, wat nie bymekaarbring in skure nie, en tog word hulle gevoed deur die hemelse Vader. Is die mens dan nie baie meer werd as hierdie voëls nie? Nee, hulle hoef nie weg te gaan nie!

​Watter troos vir daardie mense! En watter troos vir my en jou! Wanneer jy Christus gevind het, het jy die Bron van alles gevind. As jy genesing nodig het, Hy is die Geneesheer. As jy verlossing nodig het, Hy is die Verlosser. As jy die goeie gawes van die lewe nodig het, Hy is die Gewer. Wanneer jy Christus waarlik dien, hoef jy nooit jou diepe honger en soeke na vervulling elders te gaan stil nie. Trouens, jy sal nêrens elders die volkome tevredenheid en vervulling vind wat jy by Hom kan kry nie. Jy hoef nie weg te gaan nie.

Gebed: “Meer van U, Here, meer van U!” Amen.

Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van Suid-Afrika

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.