‘So sal die Vader aan julle gee wat julle ook al in my Naam vra. Dit beveel Ek julle: Julle moet mekaar liefhê!’ (Johannes 15:16–17)
Jesus leer sy dissipels om God die Vader aan te roep wanneer hulle bid, nogtans moedig Hy hulle aan om in sy Naam te vra. Hulle is een – God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees.
God het die mens deur die dood van sy Seun met Hom versoen. Die skeiding tussen God en gewone mense is weggeneem die dag toe Jesus sy laaste asem uitgeblaas en die tempelvoorhangsel middeldeur geskeur het. Van toe af het gewone mense nie meer ’n priester as tussenganger nodig nie; hulle kan nou direk met God praat. Dis nie meer nodig om graanoffers en diereoffers te bring wat die priesters namens jou moet offer nie. Jesus, die Volmaakte Offerlam is vir ons geslag. Ons is skoongewas en gereining deur sy bloed. Ons is deel van sy familie, ons is God se kinders. Eendag sal ons feesmaaltye saam met Hom geniet.
Jesus sit klaar aan tafel langs sy Vader en pleit vir ons. Hy belowe ons om ons te gee wat ons vra as ons in sy Naam bid, met een voorwaarde – eintlik ’n bevel: ‘Julle moet mekaar liefhê!’
Voldoen ons altyd aan sy opdrag, selfs hier in die huis waar ons gesin saamwoon? Dan praat ons nie eens van vriende en vreemdelinge nie … Ons skiet ver tekort en nogtans verwag ons dat ons gebede verhoor moet word. Jesus het ons lief. Hoekom sukkel ons so om mekaar lief te hê?
Jesus, U liefde is wonderbaar. U liefde maak vir ons ’n pad oop na die hemeltroon, U liefde is meer as wat ons verdien. Dankie, dat U ons leer bid.
Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media
Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital
Here, ek staan skuldig voor U! Wees my genadig en vergewe my sonde. Amen!
Dit is maklik om “ons” mense lief te he.
Sjoe, maar met party ander staan ek skuldig .
Sal probeer my tong en gedagtes onder leiding van die Heilige Gees te stel.
Amen as ons mensdom dit net wil toepas
Liefde bedek alles. Amen