Gedagte vir die dag: In Jesus

vyeboom

Foto: Reint Dykema

Bly in Christus geanker en bou op Hom, standvastig in die geloof soos julle ge­leer is, en loop oor van dankbaarheid. (Kolossense 2:7)

In Kolossense 2 lees ons hoe Paulus Christene aanmoedig om in Jesus gegrond en op Hom gebou te wees. Die Jesus in wie al die verborge skatte van wysheid en kennis en geestelike insig te vind is.

Paulus moedig die gelowiges ook aan om vas te staan in die geloof. Om nie deur mense se geestelike gedagtes of inspirerende preke meegevoer te word nie, maar om in Christus se waarheid vas te staan.

Dít alles, sê hy, moet ons doen terwyl die danksegging in ons oorvloedig is (vgl. Kol 2:7).

Die grond waarin ’n plant staan, bepaal hoe groot en sterk daardie plant sal word. Die fondament waarop ’n huis gebou is, bepaal hoe hoog daardie huis kan wees. Dít waarin jy gewortel is, verklap hoe jou geestelike groei sal verloop. Dit vertel ook watter soort vrugte jy sal dra.

Jesus self is die grond waarin ons geplant is. Geloof laat ons wortelstelsel, wat in Hom geanker is, dieper en sterker groei. Hy help ons om die winde van dwaalleer en misleiding te weerstaan. Omdat ons aan Hom verbind is, help Hy ons om volledig aan Hom deel te hê, Hy wat die volle wese van God beliggaam (vgl. Kol 2:9).

Wanneer ons in Jesus gewortel is en vanuit Hom opgebou word, laat groei Hy ons om uiteindelik oorvloedig in ons dankbaarheid te wees. Daarom is dankbaarheid nooit ’n doel op sigself nie. Christus is ons enigste doel. Wanneer ons in Hom geplant is, bring dit dankbaarheidsvrugte in ons voort.

Here, help my om te groei in my geloof in U. Moenie dat ek ooit los raak van U nie.

Bron:
100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.