Gedagte vir die dag:  In u Naam

bid_kniel_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Psalm 72

Leer tog die koning, o God, om te regeer volgens u wil, leer die koning om die reg te handhaaf soos U dit wil … (Psalm 72:1)

Hier is dit nou, en sekerlik onvermydelik aan die begin van ’n nuwe jaar: die gebed vir die koning. Die gelowige wat in hierdie dae die regeerders aan die Here opdra. Vir die owerheid bid ter wille van ’n rustige en stil lewe (vgl. 1 Tim 2:1-5).

Maar ons doen dit nie. Ons gil liewer op hulle – bitterbek, woedend. Vloek gans te gereeld wanneer ons aan “hulle” dink.

Ons gebruik al jare lank skelname wanneer ons oor hulle praat. Meestal suutjies, darem. Behalwe wanneer ons tussen mense is wat net so luidrugtig soos ons kla en net so uitgesproke oor “hulle”, die regeerders, te kere gaan.

Maar vir hulle bíd? Nie sommer nie.

Dit maak Psalm 72 ’n lastigheid. En 1 Timoteus 2:1-5 nogal ’n verleentheid. (By Romeine 13:1-7 blaai ons beslis haastig verby …) Maar selfs ’n vinnige lees van dié psalm wys duidelik die eerste beginsel van elke gebed uit: Dit is ’n versugting tot God, tot niemand anders nie. Kyk dan hoe wemel dit van “laat hy …; leer hom …; mag hy …”

Sien, die bidder praat nie met die koning nie, maar met die Koning van die konings. Hier tree die bidder nie net vir die regeerders in nie, maar juis ook vir die onderdane. Vir die verdruktes, die armes, vir reg en geregtigheid.

Vir ’n rustige en stil lewe onder die regering van iemand wat dalk nie die naam koning werd is nie. Maar vir wie daar tog gebid moet word, in die verhewe Naam van die enigste Een wat magtige dade doen (vgl. v. 18-19).

Vergewe my dié teësinnige gebed, Here. Leer my, en die koning, lewe soos U dit wil hê.

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.