Gedagte vir die dag: Innerlike krag – goedhartigheid

reenboog_perde_veld_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

“U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae.” (Psalm 23:6 – AFR83)

Hierdie lofgedig van die Psalm-digter Dawid is oneindig ryk aan inspirasie! Net soos ons hemelse Vader heilig is, behoort ons ook konstant daarna te streef om heilig te lewe. Psalm 23 beklemtoon die goedhartigheid en onfeilbare liefde wat die Here elke dag, so getrou en sonder voorbehoud aan ons openbaar. As sy kinders, na sy beeld geskape, moet ons, net soos Hy, ook goedhartig wees teenoor mekaar.

Goedhartigheid is aansteeklik! Die goedhartigheid in jou bring die goedhartigheid in ander uit. Goedhartigheid is liefde in aksie en ek het tot op hede nog nie een persoon ontmoet wat opregte liefde kon weerstaan nie. Die Woord leer ons om die kwaad deur die goeie te oorwin.

In ’n boksgeveg word die opponent die meeste van die tyd oorweldig deur die “verrassingselement”. Goedhartigheid is jou uitklophou in die stryd teen die kwaad, dit is jou eie “verrassingselement” wat ongetwyfeld enige vyand omkant sal betrap. Jesus het gesê, deur slegs goed te doen aan diegene wat aan jou goed doen, ontbreek genade. Deur goed te doen aan ’n ander al baat jy geensins daarby nie, is merkwaardig in die oë van die Here. Daardie onbaatsugtige goedhartigheid is so oorweldigend dat dit selfs die hardste van harde harte sal laat vermurwe.

Wees goedhartig teenoor soveel as moontlik mense as wat jy kan, goed en sleg gelyk. Doen dit so gereeld as wat die geleentheid homself voordoen. Goedhartigheid op sigself bring ’n ongekende, onbeskryfbare vervulling mee, wat geen “dankie” ná die tyd kan top nie. Daardie lekker, opgewonde, uit jou nate, skoenlappers-in-die-maag-gevoel, is die spesiale beloning uitgesit vir dié wat gee, sonder die motief om iets in ruil daarvoor terug te ontvang!

Geskryf deur Alta Strauss
Facebook | Instagram | [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Yvonne ·

Here verlos my van my eie ek sodat U lig deur my kan skyn…in Jesus naam Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.