Gedagte vir die dag: Innerlike krag – nederigheid

familie-rivier-pixabay-stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.” (Filippense 2:3 – AFR83)

Nederigheid is die innerlike skoonheid van ’n Godvresende vrou. Die krag van ’n blywende beskeidenheid en kalmte van gees is ongeëwenaar en vir ons Hemelse Vader aanneemlik.  Nederigheid word so dikwels as onbenullig geag, maar nederigheid is ’n sterk en stewige fondament.

Jesus was die volmaakte voorbeeld van ’n nederige leier. Hoewel Jesus 100% God is, het Hy nie sy bestaan op Godgelyke wyse as iets beskou om aan vas te klem nie, maar uit sy eie vrye wil gekies om Homself te verneder en aan mense gelyk te word. Jesus het ongekende nederigheid geopenbaar, deur tot die dood gehoorsaam te bly. Daarom het God, ons Hemelse Vader, ook Jesus tot die hoogste eer verhef en aan Hom die Naam bo elke naam gegee. Net so ook beloof ons Hemelse Vader dat Hy ons ook sal verhoog as ons onsself in nederigheid aan Hom onderwerp, asook sy voorskrifte en bepalinge onderhou en gehoorsaam.

Hoogmoed is niks anders as ’n innerlike swakheid en teken van ’n lae selfbeeld nie, boonop is hoogmoed aanstootlik en nie vir die Here aanneemlik nie. Daarenteen is nederigheid ’n innerlike krag om die Here met ontsag te dien en die loon daarvan is rykdom, eer en lewe!

As ons dit waarlik opreg bedoel wanneer ons sê dat God ons eerste liefde is en ons ander liefhet soos onsself, is daar geen plek vir hoogmoed om in ons harte te heers nie, want hoogmoed soek net sy eie belang. Ware liefde word deur nederigheid geopenbaar, deur onselfsugtig en oneersugtig te handel met ander. Dit behels om ’n ander persoon se belange eerste te stel.

Geskryf deur Alta Strauss
Facebook | Instagram | [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here Jesus dat U vir ons die weg gebaan het……Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.