Gedagte vir die dag: Invloed

rivier_pixabay_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Daarvoor span ek my ook in en beywer ek my met die krag wat Hy gee en wat kragtig in my werk. (Kolossense 1:29)

Ek het al twee keer die magtige Vaalrivier in volle vloed by my huis buite Parys in die Vrystaat ervaar. Ek het gesien hoe die rivier sy walle oorstroom, hoe die water oor die grasperk en swembad kruip en al met die paadjie langs en met die trappies op na die voordeur aanrol.

Dis vreesaanjaend.

Inwoners van die natuurreservaat is aangeraai om die landgoed, wat tussen twee vertakkings van die rivier lê, te verlaat, anders sou hulle dalk ’n tyd lank afgesny kon word. Die brug oor die rivier, waaronder ’n dubbeldekkerbus gewoonlik pas, is deur die watermassa toegespoel.

Ek het angstig na die stygende watermassa gekyk en gegryp na die enigste life jacket wat ek ken – die Een wat riviere en hemel en aarde gemaak het. ’n Kalmte het onmiddellik my innerlike gevul.

Ek dink vandag aan mense in geteisterde rampgebiede van die wêreld. In die droë woestyngebiede. Die slagoffers van siklone, tifone, aardbewings of emosionele of liggaamlike geweld. Mense wie se lewe in puin lê – mense sonder hoop.

En skielik sien ek die Vaalrivier se vloed met nuwe oë. Ek besef die nodigheid van ons goddelike IN-vloed om oor ander se pynlike landskappe te vloei.

Mag God se sagte Gees van genade jou hart se keerwalle oopbreek en jou wese met sy goedheid oorstroom. Mag dit jou beweeg om ’n bruisende en genesende rivier te wees – oral waar jy invloed in ons land het.

Help my, Vader, om elke dag bewustelik te kies om ’n goeie invloed op ander mense te hê.

Bron:
Bruistablette vir die lewe deur Susan Coetzer
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lena Jonk ·

Ons sal altyd vir SA bid waar die vloed nou oor die brug wil gaan. Ons God sal uitkomste gee en die vloedwaters weer stil maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.