Gedagte vir die dag: Is daar iets goeds in versoeking?

woestyn_voetspore_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Geen versoeking wat meer is as wat ’n mens kan weerstaan, het julle oorval nie … (1 Korintiërs 10:13)   

Die woord “versoeking” het in ons dag ’n negatiewe konnotasie gekry, maar dit is omdat ons geneig is om die woord verkeerd te gebruik. Versoeking is nie sonder meer sonde nie; dit is iets waarmee ons te doen kry bloot omdat ons ’n menslike natuur het. Om nie meer versoek te word nie sal daarop dui dat ons alreeds so skandelik is dat ons benede kritiek is. Tog is dit so dat baie van ons versoeking moet verduur wat totaal onnodig is, bloot omdat ons weier dat God ons oplig tot ’n hoër vlak waar ons ’n ander soort versoeking sal moet hanteer.

’n Persoon se innerlike natuur, dit wat hy in die innerlike, geestelike dimensie van sy wese besit, sal bepaal deur watter dinge hy van buite af versoek word. Die versoeking pas perfek by die ware natuur van die persoon wat versoek word en openbaar die moontlikhede van daardie natuur. Elke persoon bepaal in werklikheid die vlak van sy eie versoeking, want die versoeking sal na hom toe kom in ooreenstemming met die vlak van sy innerlike, beherende natuur.

Versoeking kom na my toe omdat dit ’n moontlike kortpad voorstel na die verwesenliking van my hoogste doel. Dit lei my nie na die dinge wat ek as verkeerd sien nie, maar na dit wat ek glo goed is. Versoeking is dit wat my vir ’n tyd lank verwar, wanneer ek nie weet of iets reg of verkeerd is nie. Wanneer ek daaraan toegee, het ek van wellus ’n god gemaak en dan word die versoeking self die bewys daarvan dat dit slegs my vrees was wat my daarvan weerhou het om vroeër aan daardie sonde toe te gee.

Versoeking is nie iets wat ons kan vryspring nie; dit is inderwaarheid essensieel vir die volkome afronding van ’n persoon se lewe. Waak daarteen om te dink dat jy versoek word soos geen ander persoon nie. Dit waardeur jy gaan, is die erfdeel van die menslike ras, nie iets wat niemand nog nooit tevore verduur het nie. God verlos ons nie van versoeking nie, Hy bewaar ons te midde daarvan (vgl. Heb. 2:18; 4:15-16).

Bron: My allerbeste vir Sy Hoogste deur Oswald Chamber
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.