Gedagte vir die dag: Is jou lewe een groot gejaag?

ou-horlosie

Foto: Monoar/Pixabay.com

Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het. Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy voorbeeld volg. (Efesiërs 4:32 – 5:1)

Wanneer jy deesdae vir iemand vra hoe dit gaan, is die antwoord gewoonlik: “Ek is vrek besig!” Dit is baie jammer dat die lewe so gejaag geraak het dat ons heeltemal verby mekaar leef. Ons het nie meer tyd vir ander nie, wat nog te sê die krag om na mense se probleme te luister. Voortslepende spanning veroorsaak dat ons maklik geïrriteerd raak en van goedgesindheid en hartlikheid onder moderne mense is daar nie veel sprake nie.

Dit is tyd dat ons halt roep, introspeksie doen en opnuut besef waaroor die lewe nou eintlik gaan en dit is om God en mekaar lief te hê. Vra jouself gedurig af: “Gaan dit waarmee ek nou besig is werklik oor tien jaar saak maak? Hou ek my daagliks besig met dinge wat ewigheidswaarde het of verloor ek my in wat verganklik is?”

En ja, ’n lewe in liefde is nie altyd maklik nie. Dit gaan gewoonlik met persoonlike opoffering saam. Die prys om vir ander lief te wees is meestal hoog, of dit nou ons tyd, geld of moeite is. Christus het ons wel nuut gemaak, maar dit beteken nie dat ons “ou mens”, ons natuurlike geaardheid, onmiddellik ondergeskik aan die wil van die Gees is nie. Dit beteken nie dat ons nou ewe skielik vir almal onvoorwaardeliklief gaan wees nie. Dit word ’n lewenslange proses waarin die Heilige Gees ons eie wil ombuig sodat ons al meer wil doen wat God wil hê.

Paulus beklemtoon dat ons kinders van die almagtige God is en dat Hy ons innig liefhet, daarom moet ons mekaar ook liefhê. Omdat God ons eerste liefgehad het moet ons ook ons naaste liefhê. God se liefde moet as ’t ware deur ons na ander vloei. Soos Jesus ons selfopofferend liefhet, so moet ons ander ook liefhê. Moenie dat ’n gejaagde leefstyl jou daarvan weerhou om ander lief te hê nie.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Agie ·

Amen
Die Here is skepper van tyd
Wat doen ek met die sekondes wat Hy vir my gee?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.