Gedagte vir die dag: Is jou omstandighede hopeloos?

man_sonsopkoms_dink_denker_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe … omdat God dit daaraan onderwerp het. Daarby het Hy die belofte van hoop gegee: die skepping sal self ook bevry word … om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê. (Romeine 8:20-21)

Swaarkry laat ons heel dikwels uit moedeloosheid sug. In hierdie gedeelte troos Paulus ons deur daarop te wys dat ons nie alleen sug nie, die hele skepping, medegelowiges en selfs die Heilige Gees sug saam met ons. Christus se sterwe en opstanding bied egter vir ons eindelose hoop, want hierdie gebroke wêreld sal met Jesus se koms vir goed verbygaan – dan sal ons bevry wees van verganklikheid en gebrokenheid. Daarom hoef ons nie ons aan wanhoop oor te gee nie, in Christus het ons ewige hoop. Hoop is ’n kosbare besitting. Niemand is absoluut verlore solank daar iewers ’n sprankie hoop is nie.

Tog is hierdie hoop nie net vir eendag bedoel nie. Ons kan dit nou al ervaar, want God hoor wanneer ons sug. Hy is by ons en al voel dit nie so nie, hou Hy ons in die holte van sy hand. As donkerte oor ons toesak en ons Godverlate voel, hou vas aan God se hoop. Hy werp weer lig op ons lewe. Hoop bring troos en help ons om die lewe se grootste hindernisse en probleme te oorkom. Omdat die Heilige Gees in ons woon, weet Hy wanneer ons sug, selfs daardie sugte wat ons nie onder woorde kan bring nie, want dit is te swaar.

Paulus waarsku verder dat ons nie gedurig in ons eie swaarkry moet vaskyk nie; ons moet medelye met medegelowiges betoon wanneer hulle deur moeilike tye gaan. Ons moet hulle troos en help om hulle geestelike laste te dra. Probeer gerus uitreik na ander wanneer jy moedeloos voel. Wanneer jy die fokus van jou afhaal en op ander se nood konsentreer, raak jou swaarkry skielik onbenullig. Kyk om jou wanneer jy voel jy kan nie meer nie. God is by jou lewe en die skepping betrokke. Elke nuwe grashalm, elke bloeisel, elke boom wat bot, dra die inskripsie van hoop.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.