Gedagte vir die dag: Is jy geestelik fiks?

Vrou_strand_stiltetyd_lees-Bybel_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Dit is ’n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word. Met hierdie vooruitsig span ons ons kragte in en stry ons, want ons het ons hoop op die lewende God gevestig, wat die Verlosser is van alle mense, van almal wat glo. (1 Timoteus 4:9-10)

Ons werk heel dikwels hard daaraan om ons liggaam fiks en gesond te hou – ons eet reg, stap gereeld, drink baie water, besoek die dokter en nog meer. Hoeveel aandag skenk ons daaraan om geestelik fiks te wees? Ons kan maklik verlei word om net aandag aan ons liggaamlike welstand te gee, want dit is die faset van ons lewe wat duidelik sigbaar is. Uit hierdie gedeelte blyk dit egter duidelik dat dit ons verantwoordelikheid is om in die eerste plek te sorg ons is geestelik fiks. Ons moet met ander woorde al ons kragte inspan en oefen om in toewyding aan God te lewe. Dit beteken dat ons van dinge sal wegbly wat ons verhouding met God benadeel en bewustelik daarop sal fokus om ons verhouding met God te laat blom. ’n Mens moenie soos ’n lui atleet wees nie; jy moet gedissiplineerd oefen en geestelik fiks bly. Maak tyd om met God te praat en sy stem te hoor; woon eredienste by en raak betrokke by geestelike gesprekke met ander gelowiges. Op dié manier sal jy geestelike fiks bly.

Wanneer ons die gawes wat God ons gegee het in diens van ander in die gemeente gebruik, word ons ook geestelik fiks. Gawes word immers geslyp wanneer dit gebruik word, andersins sal dit kwyn en later verdwyn. Daarom moet ons ons eie gawes gebruik om God en ons medegelowiges te dien. Dalk voel ons onbekwaam, maar onthou dit is God self wat ons toerus, Hy werk in en deur ons. Ons kan alle dinge doen deur die genade van God. Kom ons vra Hom om ons met ons geestelike oefeninge te help. Bid dat Hy ’n begeerte in ons hart sal vestig om Hom meer en meer te ken en dien.

Dit is die moeite werd om aan te hou stry en oefen – op dié manier sal ons die geestelike wedloop van die lewe suksesvol voltooi. Volharding is om die wil van God te doen en uiteindelik te ontvang wat Hy beloof het. Hou vol!

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.