Gedagte vir die dag: Is jy geestelik honger en dors?

woud_water_bome_Boekevat_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

… wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ’n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee. (Johannes 4:13)

Ek onthou hoe die nuwe jaar op skool groot atletiek gespel het en of jy nou atleet was of nie, hardloop moes jy hardloop. Skolesport herinner my altyd aan die reuk van pas gesnyde gras, jillende kinders en natuurlik ’n bors wat brand en ’n keel wat kurkdroog is nadat ek die langafstandnommer voltooi het. Ek kon gewoonlik liters water drink ná die uitmergelende resies.

Het jy geweet dat net soos ons liggaam honger en dors word, ons gees ook honger en dors word? Ons gees het egter behoefte aan geestelike voedsel en drank. Net soos ons nooit ons liggaam kos en water sal ontsê as ons honger of dors is nie, mag ons ook nie ons gees geestelike voeding misgun nie.

Geestelike honger en dors kan beskryf word as ’n leë gevoel binne jou, so of jy soekend is na iets maar jy weet nie mooi na wát nie. Die gevoel is allesbehalwe een van diepe vrede. Dit is asof jy die mismoedigheid net nie kan afskud nie en dit voel asof jy verlore op die see ronddobber. Nou hoe les jy jou geestelike dors en honger dan, vra jy dalk?

Die Woord van God leer dat ons geestelike dors geles word deur die ewige lewe wat Jesus as Seun van God gebring het. Jesus se woorde dat Hy water kan gee wat ’n mens se dors vir ewig sal les (vgl Joh 4:14), dui daarop dat Hy die nuwe lewe as Messias gebring het. As ons Jesus as ons Verlosser aanneem, maak Hy die hunkering van ’n mens se siel vir ewig stil en gee ons ware vrede. Deur geloof

vind die mens rus in die wete dat Jesus Christus die ewige lewe gebring het.

Natuurlik gaan daar dae wees wat jy steeds leeg voel al het jy Jesus aangeneem. Dit is dan wanneer jy jou in God se Woord en in gebed moet verdiep. Dit is die Heilige Gees wat ons daaraan herinner dat ons reeds die ewige lewe besit.

Die feit dat ons in hierdie gebroke wêreld al goddelike rus in die wete kan vind dat ons in Christus die ewige lewe het, beteken dat die ewige lewe reeds hier en nou op aarde al begin.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.