Gedagte vir die dag: Is jy ’n teleurstelling?

reënboog.jpg

Foto: credomag.com

Wie anders tog as julle is ons hoop en ons blydskap, die kroon op ons werk waarop ons trots sal wees wanneer ons met sy wederkoms voor die Here Jesus sal verskyn? (1 Tessalonisense 2:19)

Paulus skryf aan die gemeente van Tessalonika dat hy trots is op hulle omdat hulle hul geloof suiwer hou en God eer. Die feit dat hulle die evangelie aanvaar het en Jesus se liefde onder mekaar uitleef, is vir hom meer werd as goud en silwer. Hy verwag nie geld of eerbetoon nie, net dat hulle hul lewe aan God toegewyd sal hou en dat hulle daarna sal strewe om al die Christelike voorskrifte te hou en nog meer noulettend te wees.

Ken jy ook so ’n mentor, vriend, geestelike leier of predikant wat jy nie wil teleurstel nie? Jesus huil wanneer jy jou Christenskap op die spel plaas ter wille van wêreldse eer en duistere genot. Dink aan Jesus wanneer jou mentor, vriend, geestelike leier of predikant met trane in sy oë voor jou staan omdat jy hom of haar seergemaak het. Dink aan Jesus wanneer jy sien hoeveel pyn jy die mense wat jou liefhet, aangedoen het. Jy het hul hoop verydel, hul geloof geskok en hul liefde vertrap. Bid en hoop dat jy betyds sal wees om heel te maak wat jy gebreek het. Onthou dan, daar is ander wat ook na jou opsien. Paulus het goeie raad vir die gemeente van Tessalonika: ‘Mag die Here julle gedagtes rig op die liefde van God en die volharding van Christus!’ (2 Tess 3:5)

Here, help my om niemand teleur te stel nie – nie my ouers nie, ook nie my kinders of my gemeente nie. Ek dank U vir hulle wat my tot voorbeeld gestel is en ook vir hulle wat na my opsien as voorbeeld.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek  Joy! Digital  

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.