Gedagte vir die dag: Is jy soos goeie wyn?

wyn_plaas_stiltetyd.jpg

Foto: italiangoodnews.com

Net so min gooi ’n mens nuwe wyn in ou leersakke. Doen jy dit tog, sal die sakke skeur en die wyn uitloop. (Matteus 9:17)

In die Bybelse tyd het mense diervelle skoongemaak, dit omgedop en wynsakke daarvan gemaak. Wanneer die wynsak “gereed” was, is die druiwesap daarin gegooi en dit opgehang om die sap toe te laat om te fermenteer. Eers dan, na ’n lang ruk, nadat die wyn verouder het en sy dieper smaak ontwikkel het, is dit geniet. Dán het dit sy volle potensiaal bereik.

Soms dop ons Vader ons ook om – omdat Hy ons wil gebruik. Dan giet Hy sy Gees in ons en laat ons toe om te “fermenteer”: om dieper, ryker, smaakliker … beter te word. En dan, dikwels na ’n lang tyd, kom ons agter dat ons in die proses nie net nader aan Hom gegroei het nie, maar ánders geword het. Iets in ons het gesterf en iets het begin leef. Ons harde kors het plek gemaak vir ’n sagte hart, ons ongedurigheid het verander in meer geduld en ons veroordeelde hart het geleer om mense te omarm. Om insluitend te leef.

Miskien is God ook besig om van jou ’n goeie “ou wyn” te maak: iemand wat oor tyd vir ander lekkerder smaak, wat vreugde bring en liefde gee. Liefde vanuit ’n hart wat omgedop is.

Here, dis oukei as U my wil omdop omdat U my beter wil maak. Meer soos U wil laat word.

Bron:
Jou voetpad na vrede deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.