Gedagte vir die dag: Is jy waarlik vry?

 Stiltetyd-5.jpg

Foto verskaf aan Maroela Media

Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder ’n slawejuk laat indwing nie. (Galasiërs 5:1)

Soms lyk dit vir ons of die Here van ons vergeet het en Jesus Hom besig hou met ander mense. Hulle vertel ons van uitsonderlike gawes en wonderbaarlike gebedsverhoring. Dis duidelik dat hulle in geloof en goeie werke groei. Hulle staan aan die voorpunt van suksesvolle bedienings, maar bly steeds nederig. Hulle straal van vreugde, hulle is gelukkig.

Dan raak jy bekommerd. Jy wonder of jou geloof reg is, of jy genoeg doen, genoeg gee. Jy gaan soek redes en doen moeite om uit te vind waar jy tekort skiet. Jy lees die Tien Gebooie en Jesus se weergawe van die Wet. Jy lees weer die bergpredikasie en skrik as jy sien dat Hy ook van jou verwag om sekere reëls na te kom. Dit raak onmoontlik om alles te gehoorsaam.

Jy gaan boekwinkel toe, koop selfhelpboeke en lees instruksies geskryf deur ‘superchristene’. Jy praat met die predikant en kry nie die antwoorde wat jy soek nie. Jy sluit op sy aanbeveling aan by een of ander bediening, maar jou selfvertroue is daarmee heen en jy bly in die agtergrond, terwyl ander die werk doen. Die lewe druk en niemand gee om nie, God allermins – so voel jy.

Het jy vergeet dat die Here jou omstandighede ken en jou bydrae – hoe klein ook al – wat jy met liefde gee, aanvaar soos Hy die weduwee se penning aanvaar het? Moenie jou meet aan ander se prestasies nie, moenie jouself terugdwing onder die slawejuk van die Wet nie, Jesus het jou lief net soos jy is.

Liewe Here Jesus, help my om te doen wat my hand vind om te doen. Neem die bekommernis dat ek nie goed genoeg is vir u koninkryk nie, weg. Seën my met rustigheid en vrede in die wete dat U reeds betaal het..

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek  http://www.joydigitalmag.com 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.