Gedagte vir die dag: Is my sonde te groot?

man-kniel-gebed.jpg

Foto: imgarcade.com

Niemand wat deur God sy kind gemaak is, maak nog ’n gewoonte van die sonde nie. Hoe kan hy? (1 Johannes 3:9, Die Boodskap)

“Is my sonde te groot om vergewe te word?” e-pos ’n bekommerde skrywer my nou die dag. Kom ons hoor wat sê die Woord (Die Boodskap) daaroor:

  • Sonde maak God se hart stukkend omdat Hy die beste vir ons wil hê en weet dat sonde ons benadeel en seermaak. “‘Dis eenvoudig: as jy sonde doen, is jy tog ’n slaaf; die sonde se slaaf, nie waar nie?’ sê Jesus” (Johannes 8:34).
  • Sonde verander nie God se ewigheidsplan met sy kinders nie. “Dinge wat nie vir God reg is nie, is natuurlik sonde. Maar deur sonde te doen dompel die gelowige hom nie noodwendig in die geestelike dood in nie” (1 Johannes 5:17).
  • God wil hê dat ons ons sonde vir Hom sal neem. “Want U luister na elke gebed. Alle mense moet na U toe kom met hulle sonde.” (Psalm 65:3).
  • God skep tweede kans, maar “Moet ons dan aanhou sonde doen sodat God kan aanhou om ons vry te preek? Nee, hoegenaamd nie! Die sonde het mos nie meer ’n houvas op ons nie” (Romeine 6:1-2).

Kies vandag om net sy wil te doen, want: “Wie nou in ’n intieme verhouding met Jesus staan, sal mos nie ’n gewoonte daarvan wil maak om op die sonde se voorstoep te speel nie.” (1 Johannes 3:6, Die Boodskap).

Here Jesus, U het aan my die heel belangrikste gegee: vryheid. Daarom wil ek net doen wat U vra.

Bron:
Jou voetpad na vrede deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.