Gedagte vir die dag: Ja, jy is méér as oukei!

Vrou_arms_uitgestrek_Reint_Dykema.jpg

Foto: Reint Dykema

Ek is dankbaar teenoor God wat ons, omdat ons aan Christus verbind is, altyd saamneem in sy triomftog. (2 Korintiërs 2:14)

Oscar Wilde het gesê: “Be yourself; everyone else is already taken.” Jy weet dit. Jy het dit al baie gehoor. En tog probeer jy so dikwels nog iets of iemand anders wees. Wonder jy baie keer of jy darem oukei is, wat ander van jou dink en wat jy nog kan doen om meer aanvaarbaar te wees? Meer van gehou te word? Groter liefde te kry?

Die waarheid is: Daar is net een mens soos jy. En jý is in God se oë so ’n wonderlike skepping dat Hy gekies het om in jou te wees. Dat Hy jou gekies het om sy beeld uit te leef. Dat Hy jou wil gebruik in ander se lewens … net soos jy is.

Wanneer jy besef dat jou identiteit nie lê in die dinge om jou en in hoe jou “houer” lyk nie, maar wie jy binne-in daardie houer is, dan hou jy op met die ewige gestoei van: Is ek goed genoeg? Is ek iemand? Of niemand? En dan kan jy, elke keer wanneer jy aan jou eie waarde twyfel, teruggaan na daardie oriëntasiepunt waar jy onthou: Ek ís God s’n. Hy is in my. En ek is in Hom. En dan vind jy vrede. Vrede daarin om net te wees.

Die voetpad van vrede loop deur dié wete dat jou Vader jou oneindig liefhet … net soos jy is.

Dankie dat ek kan wees wie ek is omdat U is Wie U is.

Bron:
Jou voetpad na vrede deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.