
Foto: pixabay.com
Die beker wat Ek drink, sal julle drink. (Markus 10:39)
“Die Grote,” het hulle hom genoem, Jakobus wat saam met Petrus en sy broer Johannes aan Jesus se binnekring behoort het. Hy was saam by Jaïrus se dogtertjie, saam op die Berg van Verheerliking en saam in Getsemane. In die dissipellyste is hy altyd een van die eerste drie. Toe Herodes later die eerste gemeente ’n nekslag wou toedien, moes Jakobus sterf. Belangrik – en tog weet ons min van hom. Hy was soos sy broer: opvlieënd, partykeer ’n pyn in die nek. Dis al. Wat kan ons van hom leer?
Eerstens: Jakobus was bereid om tweede viool te speel. Dit moes moeilik gewees het om altyd in die skadu van Petrus en Johannes te leef. Maar dis hoe Jesus hom gebrei het: As dissipel wat bereid was om ander op die voorgrond te skuif.
Tweedens: Jakobus was gewillig om Jesus se lydensbeker te deel. “Kan julle die lydensbeker drink wat Ek gaan drink?” het Jesus gevra. Toe die broers “Ja” antwoord, was Jesus se reaksie: “Ja. Wat op My wag, wag ook op julle” (Matt 20:22-23). Die bekers wat Jakobus en Johannes ontvang het, was verskillend. Johannes het ’n lang, vrugbare, lewe geleef totdat hy as grysaard oorlede is. Jakobus se dood was gewelddadig, in die fleur van sy lewe. Op ’n antieke Romeinse muntstuk verskyn ’n afbeelding van ’n os wat voor ’n altaar én voor ’n ploeg staan. Die inskripsie lees: “Gereed vir al twee.” Die os moet gereed wees om onmiddellik geoffer te word óf om jaarin en jaaruit die ploeg te trek. Die gelowige wat elke dag sy dienswerk verrig, sowel as dié wat sy lewe in een dapper oomblik op die altaar plaas, is albei besig om Jesus se beker te ledig.
Is jy gereed vir al twee?
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
3 Kommentare
Amen.
Dis ‘n geweldige premie “is jy gereed vir albei” ?
Om met die duidelike wete van daardie lewensoffer “ja” te antwoord is gelykertyd geloofsekerheid.
Jesus met my.
Amen
Here U het die beker geledig vir my onthalwe…….dank, lof en eer kom U alleen toe tot in alle ewigheid…Amen