Gedagte vir die dag: Jeremia protesteer: Ek is te jonk!

man_stap_sonsondergang_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Ag, Here my God, ek kan nie goed praat nie, ek is nog te jonk. (Jeremia 1:6)

Jeremia stap ’n entjie saam met ons.

Toe die Here my geroep het, het ek viervoet vasgesteek. Ek is te jonk! Ek weet nie wat om te sê nie! Die Here se antwoord het my asem weggeslaan. “Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel.”

’n Joodse legende vertel dat Jeremia reeds besny gebore is en dat die babatjie dadelik sy moeder begin aanspreek het oor haar sondes. Toe sy protesteer, was sy antwoord: “Ek praat nie van Ma nie. Ek praat van Moeder Jerusalem!” Die storie is vergesog, maar wat wel waar is, is dat die Here sy profeet lank reeds uitgekies het. Dit geld van ons almal, sê Paulus, lank voor ons geboorte het die Here ons geken en ons geroep. “Aan God, die Vader van ons Here Jesus, kom al die lof toe! Hy het, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies” (Ef 1:3, 4). Kan jy dit dink: Dat jy vandag op die geloofspad stap, is lank reeds vasgestel. Niks is sommer per toeval nie.

En, gaan Jeremia, die pastorieseun, verder, die Here het my onwilligheid uit die pad gevee. “Jy moet gaan na wie toe Ek jou ook al stuur. Moenie vir hulle bang wees nie, want Ek is by jou.” Daar het ’n moeilike pad op die jong profeet gewag. Die mense het dikwels aanstoot geneem oor wat hy gesê het. Sy lewe was meer as een keer op die spel. Maar elke treetjie van die pad, het die Here beloof, is Hy saam met hom.

Jesus het ook vir ons beloof: Ek is met julle, altyd!

Bron: Die lig op my pad deur Piet Meiring
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here dat U elke belofte in die woord eer…….en dat ek dit my eie maag maak…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.