Gedagte vir die dag: Jesaja – “The king is dead. Long live the king!”

Foto: pixabay.com

In die jaar van koning Ussia se dood het ek die Here gesien op ’n baie hoë troon. (Jesaja 6:1)

Dit was in die jaar van koning Ussia se dood, vertel Jesaja. Jerusalem was in paniek. Die goeie koning is dood. Sedert die tyd van Dawid was daar nie ’n koning soos hy nie; godvresend, ’n bouer van stede, ’n planter van wingerde, ’n dapper generaal wat hul vyande op hul neus laat kyk het. Jerusalem was voorspoedig met  Ussia aan bewind.

Maar Ussia se sukses het na sy kop toe gegaan. Die koning wou ook die hoëpriester wees. Op ’n dag het hy self die wierookoffer na die altaar gedra. Die straf was onmiddellik. Melaatsheid! Eensaam, in afsondering, verban uit die huis van die Here, het Ussia sy laaste jare deurgeworstel. En toe het die nuus deur die land getrek. Die koning is dood – uiteindelik van sy lyding verlos. Maar wat nou? Die vyande loer oor die grense. Jotam, die opvolger, was ’n swakkeling. Israel se toekoms was op losse skroewe.

Tog nie! Jesaja het tempel toe gegaan toe die volk in rou was. Wat sien hy? God, op sy hoë troon! Op aarde is die troon leeg, maar in die hemel is die troon gevul. Die volk hoef nie te bewe nie. God regeer. Deur die eeue was dit die gebruik dat wanneer ’n Engelse koning gesterf het, uitgeroep is: “The king is dead. Long live the king!” Die troon is nie leeg nie!

Vir ons voel dit soms ook of die koning dood is, asof ons van een krisis na die ander strompel. Maar waar ons wakker lê in die nag, bring Jesaja die boodskap: God regeer! Hy sit ook in ons tyd en in ons land op sy verhewe troon. He’s got the whole world in his hands!

Bron: Die lig op my pad deur Piet Meiring
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
FM

Dis bevrydend om elke dag hieraan herinner te word.

GOD is op die troon.

Almagtig en verhewe bo als wat hier gebeur is HY soewerein

Frieda

Dankie liewe Heer U is op U troon en weet alles!!

Yvonne

Amen…dankie Here dat ek weet en verstaan , U die almagtige is op die troon vir ewig en altyd

Blomme

AMEN

ameli

AMEN