Gedagte vir die dag: Jesus, die Bewys

vrou_bybel_bid_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie? (Romeine 8:32, 33)

Die klompie woorde lê en glinster daar op die Bybelbladsy, soos ’n kosbare pêrel.

En dit lê al lánk daar. Ek sien dit nou eers raak: “Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie?” (Rom 8:32, 33).

God se vrygewigheid, soos Paulus dit aan ons wys. Die Een wat ons Vader noem, op wie ons kan vertrou, wat ons versorg en lei en by ons is wanneer ons voel die lewe eis te veel.

Hy is die Een wat ons alles gee om hierdie lewe goed en mooi en sinvol te leef. Ook om in die lewe hierna saam met Hom te wees. Hy skenk dit alles uit genade. Ons hoef nie daarvoor te werk of ons beste voetjie voorsit of elke vers in die Bybel ken of verstaan nie.

Ons Vader het sy Seun, Jesus, na ons toe gestuur om baie dinge aan ons te gee: redding en vrede, vergifnis van sonde en die geleentheid om telkens van nuuts af te begin. Die hemelse logika bring ’n standaard wat ons hele lewe beïnvloed: As Hy dan nie suinig met sy eie Seun was nie, dan is God mos van nature vrygewig.

En dan bly sy hand oop om vir ons al die ander dinge wat ons nodig het uit dieselfde oop hand te gee.

Hy gee elkeen die kans om die ewige lewe deur sy Seun te ontvang (vgl. Joh 3:16). Hy gee ons alles wat nodig is om elke dag te oorleef (vgl. Matt 6:32). Hy gee ons ook deur sy Goddelike krag alles wat ons nodig het om Hom te dien (vgl. 2 Petrus 1:3).

God gee deur sy Seun, Jesus. En Hy hou nie daarmee op nie.

Ons kan vol dankbaarheid ons hande na ons vrygewige Vader toe uitsteek. Hy wat sy Seun gegee het om ons te red, sal aan ons ook al die ander dinge wat ons nodig het uit genade skenk.

Ons Vader, dankie dat U Jesus aan ons gegee het, en dat ons deur Hom aan u vrygewigheid herinner word.

Bron: 100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan ·

Dankie Here dat U in ons lewens is. Dankie vir al U seëninge en genade. Amen!

GL ·

Dankie vir U vrygewigheid wat alle verstand te bowe gaan, hoe sal ons ooit verstaan hoe groot U genade is. Amen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.