Gedagte vir die dag: Jesus, die Christus

hout_kruis_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Handelinge 17:1-9

“Hierdie Jesus wat ek aan julle verkondig,” het hy gesê, “Hý is die Christus” (Handelinge 17:3)

Só het Paulus en sy reisgenote in die verre lande gemaak: Soek die sinagoge waar die immigrante-Jode op die sabbatdag byeenkom, gaan vertel daar vir hulle dat die Gesalfde van God na wie se koms hulle so uitsien, sy verskyning gemaak het. Sê vir hulle: Hy is in Betlehem in Judea gebore, Hy het onder die Romeine gely en is doodgemaak, maar Hy het uit die dood opgestaan. Sy Naam is Jesus.

Hy is inderdaad die Christus.

Só het dit toe ook in die afgeleë Tessalonika gebeur. En ook dáár het Paulus-hulle daarin geslaag om sommige Jode te oortuig. Maar, soos oral, was daar ook heftige teenstand.

Nee, Paulus en sy medesendelinge het dit nooit maklik gehad nie. En ons kan gerus vra: Waarom dan volhou met ’n boodskap wat duidelik nie oral goed ontvang word nie? En hoekom dit juis in die spreekwoordelike leeukuil gaan aflewer, in daardie mense se aanbiddingsplek?

Die antwoord, lyk dit my, is nie so moeilik nie: Paulus was een van húlle. Hy was trouens, so het hy by geleentheid self gesê, een van die heel bestes onder hulle (vgl. Fil 3:4-6). En daarom, het hy straks gereken, sal hy hulle nie prysgee nie. Die Gesalfde van God het hóm dan nie gelos nie, al wou hy aanvanklik niks van Hom weet nie. Ja, hy sou hulle op plekke gaan opsoek waar hulle geleer het om God se Naam te heilig, en daar sou hy hulle ’n nuwe Naam leer sê: Jesus Christus. Sommige sou dit spoedig regkry om dit agter hom aan te sê; vir ander sou dit ’n vloekwoord word. Dit is vandag nog so, ook in hierdie verre land.

Die boodskap oor Jesus Christus het tot hier gekom, tot by my en my voorgeslagte. Ek loof u Naam!

Bron:
Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Cornelia ·

Halleluja. Amen. Dankie Here. Hoe Groot is U! Alle volke, loof die Here! Ja Loof die Ere Koning! Loof die Koning van Hemel en Aarde! Prys Sy Heilige Naam! Bemin die Beminde Bruidegom. Ek aanbid U my Here en my God! U is die Regverdige Regter. U oordele is Reg. U Goedheid en U Guns beskut my en lei my in U Waarheid. U Woord is ‘n lamp vir my voet en die Vrede van my eindbestemming. My siel smag na U. My Heil en my Rots. Amen.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.