Gedagte vir die dag: Jesus, die Ligbringer

oggendster_boekevat.jpgSoos die môreson sal Hy opgaan en uit die hoogte op ons afstraal, om lig te bring aan dié wat in duisternis en in die skaduwee van die dood lewe, om ons voetstappe te rig op die pad van vrede. (Luk 1:78-79)

Lees Lukas 1:67-79

Sagaria profeteer dat die Kind wat gebore gaan word ’n Ligbringer sal wees: soos die môreson sal Hy opgaan en uit die hoogte op ons afstraal om lig te bring aan dié wat in die donkerte en in die skaduwee van die dood lewe. Hy sal ons voetspore rig op die pad van vrede. Met Jesus se geboorte verdryf die lig inderdaad die sondedonkerte, want almal wat in Hom glo, ontvang vergifnis van sonde en die belofte van die ewige lewe.

Die wêreld ervaar op die oomblik ’n donker tydperk. Daar is heelwat meer slegte nuus as goeie nuus. Ons het Jesus, die Lig bringer, nou nodiger as ooit. Maar juis óm dat ons in Hom glo, hoef ons nie in die duisternis te bly nie. Die Nederland se skilder Vincent van Gogh het teologiese opleiding gehad. Tydens sy proefpreek het hy vir die gemeente gesê: “As julle hier uitgaan, onthou, alles is nie soos julle dit sien nie. Daar is meer as wat julle kan sien.” Alles is nie so negatief soos wat dit op die oomblik vir ons lyk nie. God se helder toekoms wag vir elkeen van sy kinders. Jou swaarkry gaan uiteindelik op heerlikheid uit loop (2 Kor 4:17).

Here Jesus, dankie dat alles nie is soos ek dit sien nie, dat U steeds lig bring in donker situasies. U gee vir my ’n helder toekoms omdat ek in U glo. Bring asseblief vir my lig hierdie Kersfees. Amen

 Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Retha Roux ·

Baie dankie vir die pragtige boodskap, op die Maandagoggend

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.