Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry. (Matteus 5:17)
Jesus is die volmaakte Lam wat vir ons geoffer is. Hy is die Verlosser wat God aan Adam en Eva en hul nageslag belowe het. Hy is die Messias wie se koms deur eeue heen deur baie profete voorspel is. Hy is die kroon op God se troue liefde. Jesus is die rede waarom ons as Christene God se gebooie wil gehoorsaam. Ons volg sy voorbeeld, want Hy het nie een van hulle oortree nie.
‘Wie dan ook een van die geringste van hierdie gebooie ongeldig maak en die mense so leer, sal die minste geag word in die koninkryk van die hemel. Maar wie die wet gehoorsaam en ander so leer, sal hoog geag word in die koninkryk van die hemel,’ sê Jesus vir sy dissipels wanneer Hy hulle leer (Matt 5:19).
Wat Hy hiermee bedoel, is dat hulle onberispelik moet leef en ander ook so moet leer. Hiermee gee Hy hulle God se gebooie as die enigste ware riglyn vir hul lewe. Jesus en die Vader is een en daarom is hulle ook hierin eensgesind. Ons leer om God en ons naaste te respekteer en lief te hê. Daarby aanbid ons God en gee Hom alle eer op aarde en in die hemel. As ons God eer, sal ons nie anders kan as om Hom te gehoorsaam nie.
Liewe Here Jesus, dankie dat U ons in liefde leer wat gehoorsaamheid is.
Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media
Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital
Amen! Ongelukkig eer baie min mense in ons samelewing nog die Here. Daar is ‘n absoluute gebrek aan respek en vrees vir God, vandaar die gruwelike sonde en misdaad wat letterlik tot aan die hemel reik. Mag mense wakker word en besef dat hul ‘n ewige bestemmimg het waarvoor hulle gereed moet maak. Tyd is beperk, Christus keer binnekort terug om Sy Bruid te kom haal wie se kleed sonder vlek of rimpel moet wees. Is jy gereed?