Gedagte vir die dag: Jesus dra jou pyn

God

Foto: Argief.

Lees: Jesaja 53:1-7

Hy was verag en verwerp deur mense, iemand wat leed en pyn geken het. Tog was dit ons swakhede wat hy gedra het. Hy het ons pyn verduur. Hy is geslaan en gepynig ter wille van ons sondes. Hy is geslaan sodat ons gesond kan word. (Jesaja 53:3-5, NLV)

Wanneer ’n mens erge pyn moet verduur ná ’n motorongeluk of groot operasie, is die pyn soms so fel dat jy aan niks anders kan dink nie of op niks anders kan fokus nie – die pyn oorheers jou hele lewe. Gelukkig gaan die meeste soorte fi sieke pyn verby. Maar daar is siektetoestande soos voortslepende kanker, kroniese rug- of hoofpyn of erge artritis waar die pyn net aanhou en aanhou.

In sulke situasies help dit om op vandag se kernverse te fokus. Jesaja praat hier oor die dienaar van die Here, maar in die Nuwe Testament word hierdie teksverse op Jesus van toepassing gemaak. Hy het inderdaad aan die kruis die sonde en pyn van die hele wêreld gedra. Ons kan ons hierdie folterende pyn nie voorstel nie. Die ergste is dat dit God se wíl was om Hom só te laat ly omdat Hy ons so liefhet en ons die pyn wil spaar. Boonop het Jesus jou pyn aan die kruis gedra sónder die ondersteuning van sy hemelse Vader waarvan jy wel verseker is wanneer jy pyn moet verduur. Jesus is vandag steeds bereid om jou pyn te dra – gaan gee dit vir Hom en vra Hom om dit ligter te maak, óf om jou die genade te gee om dit met sy krag te dra.

Here Jesus, U was Iemand wat pyn geken het. U weet ook van die pyn wat ek vandag moet verduur. Neem dit asseblief weg en, indien dit nie u wil is nie, help my om dit te dra. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.