Gedagte vir die dag: Jesus herstel iemand se eer

Kleipotte_2_-stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

n Mens sit gewoonlik eers die goeie wyn voor, en as die mense goed gedrink het, dié van swakker gehalte; maar jy het die goeie wyn tot nou toe teruggehou. (Johannes 2:10)

Met Jesus se eerste wonderwerk is dit vir ons duidelik hoe strategies Hy werk. Hy kies om iets alledaags (wyn by ’n troue) te gebruik om sy grootheid te demonstreer. Hierdeur sien ons nie net Jesus se Goddelikheid nie, maar ook sy mensheid.

Dit was die verantwoordelikheid van die bruidegom om vir sy familie, skoonfamilie en vriende te wys dat hy vir sy nuwe bruid kon sorg. Een van die maniere was om ’n troue te organiseer waarby almal genoeg kon eet en drink. Indien hy dit nie kon doen nie, sou hy onmiddellik van sosiale posisie verander het en mense sou minder van hom gedink het as vantevore.

Hier sien ons presies dit: ’n bruidegom wat om een of ander rede nie genoeg wyn het vir sy gaste nie. Hy sou dus in oneer gelaat word indien sy gaste dit sou uitvind.

Maar Jesus tree toe, Hy raak deur sy ma bewus van die situasie en besluit om hierdie man te red van vernedering. Jesus red die bruidegom egter nie net van vernedering nie, maar verander sy posisie deur wyn van ’n beter gehalte te voorskyn te bring.

Jesus herstel en verhoog die eer van hierdie man, sonder om enige eer te vat vir dit wat Hy pas gedoen het. En Hy roep ons om met dieselfde gesindheid op te tree. Die herstel van die eer van mense om ons behoort vir ons ’n prioriteit te wees – persone wat as gevolg van hulle eie toedoen of watter rede ook al verneder is, of iets verloor het. Kom ons wees manne wat in die voorbeeld van Jesus mense opbou en uithelp uit hulle vernietigende situasies. Of hulle dit verdien of nie.

Here, help my om sensitief te wees vir ander se swaarkry, en gee my die geleentheid om u geregtigheid uit te leef. Amen

Bron:
Manne van die Woord deur Jannie Pelser
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

fred ·

HERE HELP MY ASB. VANDAG DAT EK SOOS U KAN WEES TEENOOR MY MEDEMENS.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.