Gedagte vir die dag: Jesus het die dood oorwin

man_uitgestrekte_arms.jpg

praisethelord.com

Lees: 1 Korintiërs 15:50-58

Ons sal nie almal sterwe nie, maar ons sal almal verander word … En wanneer hierdie verganklike liggaam met die onverganklike beklee is, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike, dan sal die woord wat geskrywe staan, vervul word: ‘Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal.  Dood waar is jou oorwinning?  Dood waar is jou angel?’ (1 Korintiërs 15:51, 54-55)

Die dood is onafwendbaar.  Niemand van ons kan dit vryspring nie.  Dit wag vir ons. Tog word mense vandag baie ouer as voorheen.  Honderd jaar gelede was mense se lewensverwagting minder as 50 jaar, terwyl ons vandag dikwels hoor van mense wat ouer as 100 jaar oud word.  Daar is ook ’n tendens by baie moderne mense om genoeg oefening te kry en gesond te eet en leef, wat ook meer jare by jou lewe kan voeg.  ’n Hoë ouderdom beteken egter nie dat ons nie uiteindelik met die dood gekonfronteer gaan word nie.

Toe Jesus uit die dood opgestaan het, het Hy die dood eens en vir altyd oorwin.  Nou is die dood nie meer die gevreesde oorwinnaar nie, omdat Jesus vir ons die angel uit die dood kom haal het.  Wanneer ons wel sterf, sal ons ’n nuwe opstandingsliggaam kry.  Ons verganklike aardse liggame sal in onsterflike hemelse liggame verander, waaroor die dood geen mag sal hê nie.  Jesus het met sy dood en opstanding die mag van die dood finaal uitgewis. Daarom hoef jy nie langer vir die dood bang te wees nie.

Here Jesus, ek loof U dat U vir my die angel uit die dood kom haal het; dat U die dood finaal oorwin het, sodat ek dit nie langer hoef te vrees nie.

Bron:
Leef in Sy lig deur Nina Smit
Uitgewer: Struik
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Dries van der Walt ·

Ek glo nie daar kan enigiets anders wees wat mens se hart met soveel groter vreugde!!! vervul as hierdie wonderlikke nuus nie.

Hennie ·

Verseker Dries, kan jy dink as jy die laaste asem uitgeblaas het en Jesus verwelkom jou met ‘n glimlag? Dan was jou lewe suksesvol, die enigste sukses wat ewigheidswaarde het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.