Gedagte vir die dag: Jesus het gekom om dinge om te keer

 Johannes 9:26 – Daarop het hy gesê: “Of hy ʼn sondaar is, dit weet ek nie. Een ding weet ek wel: ek was blind, en nou sien ek.”

Wanneer God by ʼn mens se lewe intrek, verander dinge drasties en dramaties. Mans en vroue ervaar ʼn nuwe geboorte; hulle betree ʼn nuwe dog onbekende terrein waar ander reëls as voorheen geld. Daar’s voortvarende Petrus wat die rots word waarop God sy kerk gebou het. Daar’s inhalige Saggeüs wat uit skaamte tussen die blare in ʼn vyeboom wegkruip wat deur Jesus verander word. En wat van Maria die vrou met twyfelagtige sedes wat Jesus se voete met haar trane was?

Hy wat hom oorgee in die hand van die lewende Here, word voorwaar ʼn nuwe skepsel. Die Samaritaanse vrou wat in die middagson kom water skep, ontmoet ʼn man by die put wat haar lewe handomkeer verander. Sy vergeet van haar skaamte oor haar skandes en hardloop skaamteloos dorp toe om die goeie nuus oor die man met die lewende water te versprei. En voor jy weet is sy naam op die hele dorp se lippe.

Dit is die misterie van die Nuwe Testamentiese verhale: die Koninkryk kom soos ʼn suurdeeg in jou lewe en deursuur alles.

Dalk kan jy onthou hoedat God in jou hart ingekom en iets in jou binneste aangeraak het wat jou lewe totaal en al verander het. Meestal beteken dit ons is van siendeblindheid genees. Dinge wat voorheen vir jou vreemd was, val skielik eendag net in plek. Daarom is die ervaring van die meeste bekerlinge die woorde van ons teks vir vandag: “Een ding weet ek wel: ek was blind, nou sien ek.”

Gebed: Dankie dat U graag by my, van alle mense, ook u woning wil maak. Trek asseblief vandag by my in – opnuut of vir die eerste keer. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-‘n-dag

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.