Gedagte vir die dag: Jesus het medelye

koringland_bid.jpg

Foto: christianscienceweston.com

Toe Hy die menigtes sien, het Hy hulle innig jammer gekry, want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie ’n wagter het nie. Hy sê toe vir sy dissipels: ‘Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan die wie oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes.’ (Matteus 9:36–38)

Jesus verlaat sy vader se timmermanswinkel in Nasaret en leer die land en sy mense ken. Hy en sy dissipels reis per voet en besoek al die dorpe en klein plekkies. Hy leer die mense in die sinagoges en verkondig openlik sy evangelie van liefde en selfopoffering.

In ’n tyd toe siekte en kwale deur die priesters gediagnoseer is en Moses se voorskrifte streng toegepas is, kom Jesus met ’n nuwe benadering. Hy genees deur handoplegging, deur gebed en deur die krag van die Heilige Gees. Wanneer Hy genees, genees Hy volkome. Die nuus versprei soos ’n veldbrand en mense met enige soort kwaal of siekte kom na Hom toe. Groot groepe volg Hom sodat Hy hulle gesond kan maak.

Dis nie hul liggaamlike lyding wat Hom die meeste raak nie, maar die feit dat hul leiers hulle in die steek gelaat het. Koning Herodes het wel die tempel laat herbou – nie ter wille van die volk nie, maar om sy posisie te verstewig. Die priesters en ander geestelike leiers het min simpatie met die gewone mense en hou hulle met streng wette en onnodige reëls en regulasies in bedwang. Die mense leef swaar en is geestelik ankerloos.

Ons Herder kyk na die moeë menigte en hulle lyk vir Hom soos skape wat doelloos ronddwaal en nie ’n wagter het nie. Hy weet dat hul materiële en liggaamlike nood nie halfpad so groot soos hul geestelike nood is nie en dat Hy nie tyd gaan hê om almal met sy boodskap te bereik nie. Jesus wil niemand aan hul nood oorlaat nie. Hy bid vir herders en arbeiders wat sy werk sal voorsit.

Here, hier is ek. Wys my wat ek moet doen om vir U te kan werk.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.