Gedagte vir die dag: Jesus is betroubaar

Vrou_sit_hek_sonsondergang_stiltetyd.jpg

Foto: invertedculture.net

God is nie ’n mens dat Hy sal lieg nie. (Numeri 23:19)

Wie kan ons vertrou? In hierdie wêreld nie regtig enigiemand nie.

Daar is egter Een wat betroubaar is. Sy Naam is Jesus. Hy doen altyd wat Hy belowe. Hy is volkome betroubaar. Baie van ons sal nie nou op die gevaarlike pad gestap het waarop ons ons wel bevind as ons maar net na sy raad geluister het nie. Hy praat met ons deur sy Woord en deur ander Christene. Met my persoonlik praat die Here deur die natuur en die natuurelemente. Hy bevestig telkens sy raad aan my.

In Openbaring 3:8 sê die Here: “Ek ken jou handel en wandel. Kyk, Ek het ’n geopende deur voor jou gegee en niemand kan dit weer toemaak nie.” Die Here sê wanneer die deur voor jou oopgaan, moet jy daardeur stap. Wanneer die deur voor jou toegaan, moenie probeer om die deur oop te breek nie. So baie mense misluk omdat hulle hulle instink vertrou eerder as om na God se getroue Woord te luister. Numeri 23:19 sê verder: “Hy is nie ’n mens wat ‘ekskuus’ sal sê nie.” God hoef nie om verskoning te vra nie, want Hy maak nie foute nie. Hy kom sy beloftes na. Wanneer Hy sê: “Kom na My toe, almal wat moeg en swaar belas is en Ek sal vir julle rus gee,” kan jy vir seker weet Hy sal dit doen, maar ons moet dit doen volgens sy plan, volgens sy Woord, en nie volgens ons eie planne nie.

Hoe waar is die woorde van hierdie spreekwoord nie: “As jy wind saai, sal jy ’n warrelwind maai.” Baie van ons roep uit: “Here, Here, hoekom het U my verlaat? Here, hoekom laat U toe dat ek hierdeur gaan? Here, waar was U toe ek na U geroep het?” En die Here antwoord: “Ek was die hele tyd hier, maar jy het nie op My vertrou nie. Jy het op iemand anders se raad vertrou en nou dra jy die gevolge daarvan.” Die goeie nuus is dat wanneer ons berou het, wanneer ons God vir sy vergifnis vra, kan ons altyd nuut begin.

God se raad aan jou vandag is: Soek eers die koninkryk en die wil van God en dan sal Hy al die ander dinge vir jou byvoeg (Matt. 6:33).

Bron: ‘n Mosterdsaad deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Yvonne

Dankie Here dat ek sondaar mens by U genade gevind het

Willem

Dankie Here laat U vir my ook deure oopmaak. My by die hand vat en elke dag lei. U gee vir ons elke dag om aan te gaan. Dankie Here