Gedagte vir die dag: Jesus is nie Kersvader nie

 krip_Stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Sy het daar aangekom net toe Simeon met Maria en Josef gepraat het, en sy het God begin prys. Sy het oor Jesus gepraat met almal wat verlang het na die  bevryding van Jerusalem. (Lukas 2:38)

As ek soms na al daardie soetsappige prentjies van Jesus kyk wat op Facebook en ander sosialemedia-platforms rondswerf, wil my hart gaan staan. Om nie eens te praat van die Kinderbybels en sekere kerke se uitbeeldings van Jesus in hierdie tyd nie. Hy lyk in baie van hierdie uitbeeldings kompleet soos ’n filmster, of soos een of ander superheld. In ander prentjies en uitbeeldings is dit weer ’n romantiese kindjie in een of ander ontwerperskrip wat omring word deur geparfumeerde besoekers. Feit is, die Jesus van die Bybel is anders as al hierdie romantiese voorstellings van Hom. Hy is die nederige Kneg van die hemel wat aarde toe gekom het om ons almal te dien deur sy lewe.

Jesus se nederige aankoms op aarde blyk duidelik uit sy geboorteplek. ’n Voerbak vir diere was sy heel eerste aardse bed. Wie van ons sal ooit ons kinders of kleinkinders in so ’n voerbak wil laat slaap direk ná hulle geboorte? In elk geval, Jesus se heel eerste besoekers, die skaapwagters, was ook nie romantiese Kerskaartjiefigure nie. Herders was in daardie tyd maar ’n spul randfigure in die samelewing met twyfelagtige reputasies. Tog word hulle genooi as die eregaste van die hemel om Jesus se aankoms hier op aarde te kom ervaar. Ook was Jesus se tuisdorp in Galilea waar Hy later sy kinderjare deurgebring het ’n agteraf plek. Ek praat van Nasaret. Jesus het doelbewus ’n vreemde, nederige gestalte gekies toe Hy hier aan ons kant van die draad kom leef het. Hy wil regtig nie ’n aardse superster wees nie. Hy is die Een wat ons kom dien met sy lewe. Ken Hom reg. Dien Hom reg hier in Kerstyd. Buig voor Hom met vreugde.

Bron:
Blydskap wat bly deur Stephan Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.