Gedagte vir die dag: Jesus maak jou plek gereed

Woud_groen_water_stroom_boekevat_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: Johannes 14:1–11

In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. (Johannes 14:2-3)

Jesus se dissipels was baie ontsteld toe Hy hulle vertel dat Hy na sy Vader toe teruggaan. Maar Hy troos hulle deur hulle te belowe dat daar baie woonplek in die huis van sy Vader is. Eintlik laat Hy hulle nie alleen nie, want Hy stuur die Heilige Gees in sy plek om altyd by hulle te wees. Hy belowe dat Hy gaan om vir hulle plek in die Vaderhuis gereed te maak. Sodra Hy dit gedoen het, kom Hy weer om hulle na Hom toe te neem.

Laasgenoemde belofte van Jesus is nog nie vervul nie en dit is steeds aan die adres van elkeen van sy kinders gerig. Met Jesus se wederkoms kom Hy om sy kinders te kom haal, sodat ons vir altyd by Hom kan wees. Daar was al baie pogings om die datum van die wederkoms te voorspel, maar sonder sukses. Die dag en datum is egter glad nie belangrik nie. Die feit is dat dit gaan gebeur, maak nie saak wanneer nie. Intussen moet ons hier op aarde so leef asof ons Hom elke oomblik verwag, sodat Hy ons nie dalk onvoorbereid sal aantref nie. Die heel beste manier om op Jesus se wederkoms te wag, is om die Evangelie te verkondig sodat daar soveel mense moontlik op aarde sal wees wat na sy koms uitsien.

Here Jesus, U is reeds besig is om vir my ʼn woonplek in die hemel voor te berei! Ek sien uit na daardie dag dat U sal kom om my na U toe te neem.

Bron:
Leef in Sy lig deur Nina Smit
Uitgewer: Struik
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dave ·

Maar onthou net, as mens werklik na die wederkoms (of die wegraping soos baie van ons dit noem) uitsien en verlang, dan WIL mens weet wanneer dit gaan wees. Nie noodwendog die dag en datum nie, maar wel die tyd en tekens soos die terugkeer van Israel na hulle land en die opkoms van die antichris beweging en globalisme. Die is werklik tekens dat die tyd baie naby is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.