Gedagte vir die dag: Jesus praat Immanueltaal

lighuis_sonsondergang_pixabay_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

“Die maagd sal swanger word! Sy sal aan ’n Seun geboorte gee. En die mense sal Hom Immanuel noem.” (Hierdie naam beteken: God is by ons.) Matteus 1:23

Toe die wyse manne daar by Jesus opdaag, het hulle ’n klompie spesiale geskenke saamgebring. Goud, wierook en mirre was verpak in hulle reistasse. Nee, hulle het nie babadoeke, poeier of kinderklere saamgebring nie. Die wyse manne het geweet ’n adellike uit die hemel het sy opwagting hier op aarde tussen ons almal gemaak. Hulle het sy koms in die hemelruim raak gekyk. Toe kom kuier hulle. Toe word die koning van die hemel op aarde verwelkom deur ’n paar geleerde manne uit ’n ver land in die ooste. Hulle geskenke was ’n simbool van hulle diepe eerbied en aanbidding. Om Jesus raak te sien, vra om oop oë – daar die soort wat die wyse manne gehad het. Dit vra dat mens verby al die glans en glinster van nog ’n kommersiële Kersfees kyk totdat jy die Seun van God in die helderste kleure herken. Hy is hier. Hy is regtig in ons midde. Hy is Immanuel, tot in ewigheid.

Jesus se aankoms in ons midde verkondig lewensgroot die teenwoordigheid van God. Jesus praat Immanueltaal. Nee wag, Hy is Immanuel self. Hy is God met ons, God by ons. Daarom is Kersfees so ’n vrolike tyd in sy blye teenwoordigheid. Dit is die tyd om geskenke met vreugde te bring aan Hom, die Koning van die hemel. Ons beste geskenke aan Hom is lof en aanbidding. So maak ons sy hart bly. Ons vier fees en sing omdat Jesus ons Vredeskoning is. Sy aankoms het lewe gebring vir God se nuwe volk.

Jesus is God met ons. Daarom wens ons graag in hierdie dae vir mekaar en vir almal rondom ons ’n geseënde Kers fees toe. Ons wens vir almal die blywende vrede en vreugde van Christus toe.

Bron:
Blydskap wat bly deur Stephan Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.