Gedagte vir die dag: Jesus red en genees oor afstand

sonsondergang_wolke_son_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Die pa het toe besef dat dit die presiese uur was waarop Jesus vir hom gesê het: “Jou seun lewe.” Hy en sy hele huishouding het toe begin glo. (Johannes 4:53)

Wanneer ons siek word, gaan ons dokter toe. Hy ondersoek ons en gee dan medisyne. In Johannes 4 lees ons hoe Jesus ‘n amptenaar van die koning se seun oor ‘n afstand van 25 kilometer gesond maak, sonder om fisies by hom te wees.

’n Regeringsamptenaar wat in Kapernaum werk se seun is siek. Hy is so bekommerd oor sy kind dat hy self die 25 kilometer van Kapernaum af tot in Kana stap. Hy was so bekommerd oor sy seun dat hy waarskynlik nie net gestap het nie, maar gedeeltes gehardloop het. Hy glo as Jesus net na sy seun toe kan kom, sal hy lewe. Hy vertrou in die krag van Jesus. Dan sê Jesus vir hom hy kan maar huis toe gaan, want sy seun sal lewe. Jesus toets sy geloof deur nie saam met hom te gaan nie.

Hy pak die reis terug huis toe aan, want hy glo dat sy kind gesond is. Dink net hoe bekommerd hy moes gewees het! Op pad terug kom die amptenaar se onderdane hom tegemoet met die goeie nuus dat sy seun gesond is. Ja, Jesus het hom genees oor ‘n afstand van 25 kilometer. Toe die man vra wanneer die seun gesond geword het, besef hy dit was toe hy by Jesus was. Dit was die vorige middag om eenuur.

Die amptenaar en sy hele huishouding het toe begin glo. Hulle het Jesus nie gesien nie, maar ervaar wat Hy gedoen het toe die seun gesond geword het. Almal is gered. As jy glo, is jy ‘n kind van God. Dan is die ewige lewe deel van jou redding. Almal het veel meer gekry as wat hulle verwag het.

Here, U is die groot Geneesheer. U krag is onbeperk. Ek loof en prys U, want U verhoor ook my gebede. Amen.

Bron:
Met ‘n lied in die hart deur Marietjie Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Andrea ·

So het die Here my ook gered van n ingrypende, baie gevaarlike operasie. Hy is die Groot Geneesheer, Hy is almagtig. Ek is nederig dankbaar, elke dag.

Lena Jonk ·

Ja ons God het nie afstande nodig om Sy Genade oor ons uit te stort nie. Hy is Almagtig, alomteenwoordig. Die enigste ware God, laat ons elke dag sy liefde vir ons raaksien want sonder Hom is ons niks.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.