Gedagte vir die dag: Jesus roep sy dissipels

twee_mense_stap_sonsondergang_boekvat.jpg

Foto: jorgeschulz.wordpress.com

Jesus het dié wat Hy wou hê, nader geroep, en hulle het na Hom toe gekom. (Markus 3:13)

Tot sover was ons in die geselskap van die ou profete. Die res van die maand gaan ons deur die Nuwe Testament blaai om te sien hoe Jesus sy dissipels uitgesoek het. Lukas vertel hoe belangrik die besluit vir Jesus was. Jesus het alleen na die berg gegaan en ’n hele nag in gebed deurgebring. Hy wou met sy Vader beraadslaag oor wie die twaalf moes wees.

Jesus het sy dissipels vir twee redes gekies. Eerstens het Hy hulle geroep om by Hom te wees (Mark 3:14). Hy het ’n behoefte aan hulle nabyheid gehad – net soos die dissipels ’n groot behoefte aan sy versorging gehad het. Vir drie jaar sou Hy hulle onderrig.

Tweedens het Jesus die twaalf uitgekies sodat Hy hulle kon uitstuur om sy werk voort te sit. Lukas vertel dat Jesus sy dissipels apostels (letterlik “gestuurdes”) genoem het. Voor sy kruisiging het Hy hulle al op uitreike na die Joodse dorpies begin stuur. En ná sy opstanding het Hy hulle uitgestuur om namens Hom sy boodskap aan die hele wêreld te verkondig.

Die dissipels was ’n interessante groepie mense, mense met heeltemal uiteenlopende geaardhede. Maar twee dinge was van almal waar. Eerstens was hulle diep geraak deur Jesus, sy persoon en sy boodskap, so diep dat hulle hul hele lewe aan Hom gewy het. Tweedens moes hulle dapper mense gewees het wat ten spyte van die gevare wat nie net op hul Meester nie, maar ook op hulle gewag het, die pad saam met Jesus sou stap. Dietrich Bonhoefer, die bekende Christen-martelaar van die vorige eeu wat in ’n Nazi-konsentrasiekamp sy lewe verloor het, het gesê: “As Christus jou roep om Hom te volg, roep Hy jou om te sterf!”

Bron: Die lig op my pad deur Piet Meiring
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
FM

Om op daardie opdrag positief te reageer kom met ‘n belofte van ons HEER.

EK SAL JOU NOOIT VERLAAT NIE

Yvonne

Dankie Here dat in alle omstandighede U by my is….suiwer my na U wil..Amen