Gedagte vir die dag: Jesus se lewende water

Woud_groen_water_stroom_boekevat_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: Johannes 4:7-15

Jesus antwoord haar: “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ’n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.” (Johannes 4:13-14)

Die herders van destyds moes hulle skape elke dag van water voor sien. Wanneer Jesus die Samaritaanse vrou by die put ontmoet, vertel Hy haar van ’n ander soort water – die lewende water wat Hy haar kan gee – en Hy voeg daarby dat indien sy van hierdie water drink, sy nooit weer dors sal word nie. Die vrou vra Hom dadelik om haar van daardie water te gee, en kom tot geloof in Hom.

Alle mense word met ’n hunkering na God gebore, ook al besef hulle dit nie self nie. Hulle probeer dan ook hierdie dors na God op allerhande verkeerde maniere les deur dinge soos plesier, rykdom en mag na te streef. Net om aan die einde van hulle lewe te ontdek dat geeneen van hierdie dinge hul geestelike dors kon bevredig nie.

Die storie van die Samaritaanse vrou het ’n pragtige einde. Sy deel die “lewende water” wat sy van Jesus gekry het, met die mense van haar dorpie. Hulle ontmoet Jesus persoonlik en getuig dan dat hulle nou in Hom glo op grond van wat hulle self gesien het.

Het jy al Jesus se lewende water gevind? Dan is dit jou dure verantwoordelikheid om dit met ander mense te deel.

Here, ek loof U vir u lewende water wat my dors na U vir altyd geles het. Leer my hoe om dit met ander te deel. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jacoba ·

En neem dit (SY WATER die LEWENDE WOORD) 3×dag of soos nodig. Dis gewaarborg dit WERK. Dankie Jesus Amen.

Jacobus Lamprecht ·

Dis die waarheid Deel God se WOORD ( water ) met ander mense !!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.